Vermeulen vermaak

LEPHALALE — Andries Vermeulen van kykNET se OppieStoep is sanger, komediant en storieverteller van formaat. Hy het gaste Vrydagaand 12 Oktober in ʼn volgepakte kerksaal van die Hervormde gemeente Onverwacht laat skaterlag, maar ook met diep nadenke gelaat.

Miems Erasmus saam met Andries Vermeulen

Dié man se egtheid staan oor sy hele gelaat geskryf. Onlosmaaklik deel van sy onpretensieuse persoonlikheid. Gemaklik in sy eie vel. Beslis nie bang om te lag of grappies te maak nie. Hy is ook nie bang om sy leed te deel en ʼn voorbeeld te stel van hoe om daarmee om te gaan en bo jou omstandighede uit te styg nie. Iets waarvoor ʼn mens met groot respek na dié groot naam in die vermaaklikheidsbedryf kan opsien.

Die NHSV het verseker dat die tafels gepak was met lang borde vol lekkernye soos biltong, frikkadelle, kaas, aarbeie en baie meer. ʼn Kontantkroeg het meegehelp aan die feestelike samesyn.

Andries het die veiling self waargeneem en nuwe betekenis daaraan gegee met die pittige opveil van verskeie items wat goeie geld vir die kerk geïn het.

As jy hierdie vertoning gemis het, maak seker dat jy volgende keer jou kaartjie betyds koop.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.