Vermis, selfoon af

Monique

Leoni Kruger
LEPHALALE — Sy het blykbaar verlede Donderdag 7 April in die vroeë oggendure haar tassie gepak en die pad gevat. Sedertdien weet niemand wat van die 19-jarige Monique Barnard geword het nie.
Haar ma, Louise Loubser, het Woensdagaand nog met haar gepraat en Monique het vir haar gesê dat sy en haar vriend baklei het. Volgens Louise het Monique ‘n tyd gelede by haar vriend in Peter Mokabastraat ingetrek – ten spyte van almal se waarskuwings. Louise het haar selfoon daarna afgeskakel omdat dit blykbaar dikwels gebeur het dat Monique en die vriend ‘n onderonsie het en dan het sy Louise gebel – ongeag watter tyd van die nag dit is. Louise sê toe sy Donderdagoggend haar dogter bel was die foon afgeskakel. WhatsApp-boodskappe het nie deurgegaan nie. Teen druktyd was die selfoon steeds afgeskakel.
Louise sê sy het Monique se vriend geskakel, maar hy het blykbaar aanvanklik haar oproepe geïgnoreer. Louise het die afgelope naweek van Pretoria af Lephalale toe gery om te probeer uitvind wat van haar kind geword het. Sy was Sondagaand by die polisie om haar dogter as vermis aan te meld.
Volgens Louise is Monique se lewe van jongs af ontwrig. Sy is in haar graad 9-jaar na haar pa in Musina, maar sy beweer haar kind se lewe het daar ontspoor. By navraag het Monique se pa glo gesê sy is nie by hom nie.
Volgens haar vriend is sy die laaste keer gesien in ‘n swart spaghetti-toppie en ‘n swart sweetpakbroek. Sy het donkerbruin hare en oë, weeg ongeveer 70 kg en is ongeveer 1.7 m lank.
Enigiemand met inligting wat die polisie moontlik in hulle soektog na Monique kan help, word versoek om adjudant-offisier Frans Mokoena by Lephalale SAPS te skakel by 072 465 9056 of 079 578 8524.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.