Verniel vir fone

Leoni Kruger
VAALWATER — Mariaan (31) en Theuns Pretorius (28), inwoners van Vaalwater, is Saterdagoggend 15 April omstreeks 04:00 in hul huis oorval, aangeval en beseer.
Volgens ‘n lid van Welgevonden Sekuriteit wat net na die vooval op die toneel was, het drie mans, vermoedelik Zimbabwiërs, ‘n skuifdeur met behulp van ‘n skroewedraaier oopgebreek en toegang tot die huis verkry. Een van die verdagtes het ‘n balaklawa gedra.
Binne-in die huis is ‘n vuurwapen teen hul 12-jarige seun se kop gedruk en hy is beveel om stil te bly. Hulle 5-jarige dogter het begin gil en sy het probeer om na haar ouers se kamer te hardloop wat net oorkant haar kamer is, maar een van die verdagtes het haar gegryp en probeer om haar terug in haar kamer te stamp. Mariaan het dit gesien en begin gil en gehardloop om haar kind te help toe een van die verdagtes haar met ‘n mes in haar nek steek. Sy het ook steekwonde op albei haar hande en bene. Intussen is Theuns met iets oor die kop geslaan, want hy was vir ‘n ruk bewusteloos. Volgens Welgevonden Sekuriteit het Theuns geen idee waarmee hulle hom geslaan het nie.Hy het na ‘n ruk sy bewussyn herwin en kon hulp ontbied. Mariaan is na ‘n dokter in Vaalwater geneem en hy het haar verwys na Montana Hospitaal in Pretoria.
Die gesin se hond, ‘n duitse herdershond, is vermoedelik met Doom gespuit, want die hond was heeltemal gedisoriënteerd. ‘n Blik Doom is later in die huis gekry.
Die polisie vermoed die mans is bekend aan die gesin, want hulle het Theuns op sy naam genoem. Die seun sê ook hulle stemme het vir hom bekend geklink.
Volgens die polisie het die verdagtes waarskynlik begin paniekbevange raak en gevlug nadat Mariaan begin skree het.
Die ondersoekspanne het hulle spore gevolg tot by die Vaalwater nedersetting, maar hulle sê toe dit begin lig word het daar te veel mense begin loop en dit was moeilik om die spore te volg.
Drie verdagtes is wel in verband met die voorval gearresteer, maar Welgevonden Sekuriteit sê daar is niks wat hulle positief met die voorval verbind nie.
Die forensiese span van die polisie het vingerafdrukke op die skuifdeur en skroewedraaier gekry en die skroewedraaier is deur hulle ingeneem.
Daar word tans net drie selfone vermis.
Teen druktyd was Mariaan reeds ontslaan om tuis aan te sterk. Die kinders gaan blykbaar traumabehandeling ontvang.
Die saak word verder ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.