Verwoesting van grafte ʼn skande

Jannie Grove wys na waar die grafstene beskadig en verwoes word.  Op die foto kan ook gesien word dat daar geen onderhoud in die begraafplaas gedoen word nie
Jannie Grove wys na waar die grafstene beskadig en verwoes word. Op die foto kan ook gesien word dat daar geen onderhoud in die begraafplaas gedoen word nie

VAALWATER — Mogol Pos het die oorspronklike Vaalwater begraafplaas verlede week besoek. Oud-inwoner Jannie Grove het die koerant vergesel.
“Ek kom gereeld in die begraafplaas wat tussen my huis en Lesideng geleë is. Ek was onlangs geskok om te sien hoe min respek mense deesdae vir grafte en grafstene het,” sê Grove.
Die begraafplaas, geleë langs die Sandrivierpad wat later die Melkrivierpad word, is vanaf 1947 tot 1992 gebruik voordat Vaalwater ʼn nuwe begraafplaas langs die R33 tussen Modimolle en Vaalwater gekry het.
Tientalle grafte in die begraafplaas is reeds omgegooi, stukkend geslaan of totaal verwoes deur vandaliste. Die begraafplaas het ook nie meer ‘n heining, hek of afbakening nie. Dit lyk selfs of daar in jare nie gras gesny of geskoffel is nie.
Familielede van die Jacobs-, Smit-, De Beer-, Venter- en Snydersgesin is onder andere hier begrawe.
Modimolle Munisipaliteit is verantwoordelik vir die onderhoud op geregistreerde begraafplase in die Vaalwater-omgewing.
Mogol Pos het ook oproepe van ontstelde inwoners ontvang oor die toestand van die begraafplaas in Onverwacht. By navraag aan die munisipaliteit het hulle gesê dat die nuwer deel van die begraafplaas se uitleg so is dat dit moeilik is om die gras te sny. Hulle sou egter teen Woensdag ‘n bossiekapper beskikbaar hê om die terrein skoon te maak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.