Visse op droë grond …

LEPHALALE — Die Bosveld is steeds droog, ten spyte van die onlangse reën. Dit reën ongelukkig nie gras nie en diere sal nog vir ʼn lang tydperk gevoer moet word. Boere juig nietemin en bid vir opvolgreën sodat die Bosveld uit die droogtegreep kan kom.

Meliza tydens haar reddingspoging

Voordat reën die naweek van 8 Desember wyd geval het, het Meliza Hendriks ʼn plan gemaak met die visse in die Mogolrivier – die rivier is op plekke kurkdroog en die visse is stadig maar seker besig om te vrek.

Meliza bly op die plaas Eendracht aangrensend tot die Mogolrivier en sy sê in die 23 jaar wat sy op die plaas bly het sy die Bosveld nog nooit so droog gesien nie.

Sy sê sy het net besef die visse gaan vrek as hulle nie ʼn plan maak nie en hulle het probeer om die visse so “sag” as moontlik te vang. “Toe die visse se vinne bo die water begin uitsteek het ek geweet ons kan nie langer wag nie, iets moet gedoen word.”

Sommige visse is met ʼn skepnet gevang en ander kon hulle selfs met die hand vang. Die visse het hulle in ʼn plaasdam op die plaas gegooi.

“Daar was baie onderbekke en kurpers. Ons het selfs ʼn paling of twee gevang – ek het nie eers geweet hier is palings in ons rivier nie. Ons het so groot geskrik, want dit lyk soos ʼn slang wat uit jou hand glip,” vertel Meliza.

Hulle het omtrent 100 visse gered maar daar is nog baie oor.

“Dit is onmoontlik om alles te red. As ons dit moet probeer doen gaan ons heeltyd net daarmee besig wees,” sê sy.

“Ek het eers alleen begin. Skottels en ʼn koelboks vol water gemaak. Na die eerste skep het ek besef ek gaan dit nie alleen kan doen nie en het ek van die werkers gebel. Ek het gevra dat hulle my help en die visse wat seergekry het en nie gered kon word nie, kon hulle vat. Van die klein vissies wat dood in die rivier gelê het wat nog vars was, het ons opgesny en vir die hoenders gegee. Party mense moes vang en dan moes ander dit vinnig na die bakkie vat en iemand moes heeltyd by die bakkie staan om te sorg dat daar suurstof in die water bly. Dit was omtrént ʼn spanpoging.

“Ek en ʼn werker kyk nou elke dag in die rivier vir nette wat daar lê as gevolg van mense wat vangnette stel en dan los hulle die visse daar om dood te gaan en ander diere word dan daarin vasgevang,” vertel Meliza.

Die plaas Eendracht het 34 mm reën oor die naweek van 8 Desember gehad. Meliza sê die babers baljaar, maar die visse wat hulle gered het is steeds in die dam op die plaas. “As dit nie gou nog reën nie, gaan ons nog visse moet red,” sê sy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.