Viva Verfkwas!

Miemie, Jana en Phillip tydens die uitstalling …

Ria Wells
LEPHALALE — Dit is nie onbekend dat hier baie talentvolle siele in Lephalale is nie. Sang, skryf, skilder, toor met blomme, noem maar op.
Skaars ‘n week nadat Mogol Pos berig het oor die pragtige skilderye wat tydens die Kaas-en-Wyn-aand by die Hervormde Kerk Ebenhaeser deur verskeie plaaslike kunstenaars uitgestal is, het ons by Miemie Engelbrecht se huis ingeloer waar sy haar eie, Phillip Nel en Jana Pienaar se skilderye ten toon gestel het.
Miemie skilder vir die afgelope vier jaar voltyds. Sy het wel op skool asook naskools kuns en modeontwerp studeer en haar skilderye vertel dat sy uiteenlopend skilder. Natuurtonele. Gesigte. Abstrak. Stillewes. Blomme. Haar skilderliefde blyk egter van allerhande afdraai- en plaaspaadjies te wees wat elk sy eie storie vertel en wanneer jy daarna kyk, voel dit of jyself met jou voete in die sand op pad is.
Jana Pienaar skilder vir die afgelope drie jaar voltyds vandat sy afgetree en in Lephalale kom bly het. Sy sê egter dat sy nooit voorheen tyd gehad het om te skilder terwyl sy gewerk het nie. Sy het wel, terwyl sy in die onderwyskollege was, in kuns gespesialiseer en sy het nadat sy in Lephalale gevestig het, skilderlesse gekry by die bekende Dalene Lambert en Ansu Leahy. Nou kan sy haar voluit in haar kuns uitleef.
Phillip Nel is ‘n ander storie. Dié man het nie geweet hy kan skilder nie. Hy vertel hoe hy eendag na ‘n man wat staan en skilder gekyk het en besluit het dat hy dit ook kan doen. Met geen formele opleiding nie. Phillip het op die internet rondgeloer, gelees en na video’s oor skilderkuns gekyk.
As ‘n mens na sy skilderye kyk, sal jy nie sê dat dit slegs twee en ‘n half jaar is vandat hy sy hand aan ‘n verfkwas gewaag het nie. Sy kunswerke spreek van uitstaande talent. Hy is egter baie beskeie en sê dat hy nog baie het om te leer.
Kontak Miemie by 083 532 3411, Jana by 072 546 6125 en Phillip by 082 922 5428.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.