Vlakvarkstropers gevonnis

Vlakvarkstropers-gevonnis-3

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die vier verdagtes wat op 16 Julie deur Lephalale Polisie gearresteer is nadat hulle op die plaas Grootgenoeg buite Lephalale betrap is met agt vlakvarkkarkasse, sewe jaghonde en ‘n verdagte voertuig, is verlede week in Lephalale magistraatshof deur landdros Amia Eckard gevonnis.
Die hof het bepaal dat die verdagtes die voertuig (‘n Corsa-bakkie) doelbewus en met opset gebruik het om hulle met die misdaad te help en daarom is die voertuig aan die Staat verbeur.
Die verdagtes, Jappie Sehlare, Daniel Motsuki, Frans Matlamela en Hans Mochero, moet elk ‘n boete van R5 000 betaal of alternatiewelik 12 maande gevangenisstraf uitdien. ‘n Verdere 12 maande gevangenisstraf is opgeskort vir vyf jaar. Hulle moet ook elk ‘n R1 000 kompensasie aan die klaer betaal.
Volgens die grondeienaars in die omgewing het misdaad oornag afgeneem nadat dié vier gearresteer en hulle voertuig verbeur is.
Die klaer, Neels Alant, bedank al die bure van omliggende plase en alle ander mense wat die hofsaak bygewoon en baie ondersteuning gebied het. “Die gemeenskap is keelvol vir hierdie tendens van wilddiefstal wat hier posgevat het en almal het belang daarby dat die skuldiges vasgetrek moet word” sê hy. Sersant Danie Erasmus van Veediefstaleenheid by Lephalale Polisie, wat ondersoekbeampte vir dié saak was, sê hy hoop hierdie goeie vonnis sal as afskrikmiddel dien vir voornemende wilddiewe.
Sersant Erasmus sê dit is nie maklik om wilddiewe te kry nie, hierdie is dus iets wat baie positief uitgedraai het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.