Vliegtuig val, legende sterf

SWARTWATER— Die 54-jarige Koot Human Steyn (Kotie) van die plaas Zwartwater, is Dinsdagoggend op slag dood nadat sy vliegtuig, ʼn Jabiru J430, net na 07:00 op die plaas Enkelfontein in die Swartwater-omgewing neergestort het.

Steyn het minute tevore op die aanloopbaan op sy plaas Zwartwater in Swartwater opgestyg.

Volgens sy skoonseun, Dawie Malherbe (33) was hy op pad Johannesburg toe vir ʼn vergadering en is die plek waar die vliegtuig geval het sowat 4 km (soos die kraai vlieg) van waar hy opgestyg het. Malherbe sê volgens werkers wat gesien het hoe die vliegtuig neerstort het dit gelyk of Steyn die vliegtuig eers “opgetrek” en moontlik toe ʼn noodlanding probeer doen het. Hy het baie laag gevlieg. “Die vliegtuig was in stukke, so dit is verskriklik moeilik om te bepaal wat regtig gebeur het,” sê Malherbe.

Volgens kolonel Moatshe Ngoepe, Provinsiale polisiewoordvoerder, word ʼn saak van strafbare manslag ondersoek.

Steyn laat sy vrou, Marie (51), sy dogter Marachelle (27), skoonseun Dawie (31), seun Marco (25), sy ouers Marius en Kotie, skoonma Rachel en twee kleinkinders (onderskeidelik 2 jaar en 1 maand oud) agter.

Teen druktyd was Burgerlugvaart steeds besig met ondersoeke om die oorsaak van die ongeluk te probeer bepaal.

Steyn se begrafnis word Saterdagoggend 13 Oktober om 10:00 vanuit die NG Kerk in Swartwater gehou.

Steyn, ʼn ingenieur en sakeman, word deur vriende beskryf as die “man met die grootste hart wat altyd plek vir almal gehad het. Sout van die aarde. ʼn Legende.”

(Kotie Steyn was 10 jaar gelede ook in ʼn vliegtuigongeluk met dieselfde vliegtuig en hy het dit wonderbaarlik oorleef. Rus in vrede Kotie – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.