VLU betrek jeug

Monique en Ria by Monique se breiboks. Monique gaan verwyder gereeld die klaar gebreide blokke en vervang dit met nuwe wol

LEPHALALE — Ria Strydom, VLU Bosveldstreekvoorsitter, help vanjaar die jeug om by gemeenskapsprojekte betrokke te raak. Monique Kotze, ‘n graad 11-leerder van Hoërskool Ellisras, het by Ria aangeklop vir raad oor hoe om by ‘n gemeenskapsprojek betrokke te raak.
Ria het ‘n paar projekte aan haar voorgelê en sy het dadelik entoesiasties met ‘n breiprojek begin. Die projek behels dat ‘n boks met breinaalde, wol en ‘n patroon deur Monique by salonne en dokters se spreekkamers geplaas word. Die patroon is vir ‘n blokkie wat deur lede van die publiek gebrei kan word wanneer hulle sit en wag vir hul afspraak. Die VLU-lede gaan uiteindelik hierdie blokkies aanmekaar werk en dit skenk aan skole waar daar nood is.
“Dit is wonderlik om die jong dames betrokke te kry sodat hulle kan sien hoe maklik dit eintlik is om ‘n verskil in jou gemeenskap te maak” sê Ria.
Sy nooi alle kinders wat graag betrokke wil raak uit om haar te skakel. “Saam kan ons ‘n groot verskil maak hier in Ellisras” sê sy.
Ria sê daar is talle projekte in Lephalale waarby die VLU betrokke is en sy is baie opgewonde oor ‘n Meksikaanse dogter wat tans in Lephalale woon wat ook graag betrokke wil raak. Sy gaan binnekort ‘n projek aan dié dogter toeken en dan sal meer besonderhede bekend gemaak word.
Sy doen ‘n beroep op dokters en saloneienaars om die VLU tegemoet te kom om die breibokse in hulle wagareas te plaas.
“Brei tog ‘n ry of drie terwyl jy sit en wag en skenk wol vir ons projek. Help ons jeug wat graag ‘n verskil wil maak” versoek sy.
Skakel Ria by 084 520 0120 vir meer besonderhede oor dié besondere projek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.