VLU Bosveldstreek nuwe era

LEPHALALE — Ria Strydom, voorsitter van VLU Bosveldstreek, sê sy is baie opgewonde oor die nuwe era wat die VLU betree.

Lida Roos saam met Ria Strydom, VLU Bosveld Streekvoorsitter, tydens Lida se babatee wat VLU Ellisrastak vir haar gereël het

“Vandat ek by die VLU betrokke geraak het, lê my hart by die jong vroue van ons gemeenskap, want hulle is die leiers van die toekoms en die voortbestaan van die VLU hang van hulle af,” sê Ria.

Sy sê hulle is dankbaar dat die VLU in getalle groei danksy jong dinamiese vroue wat aansluit.

Ria wens Lida Roos, die nuwe voorsitter van VLU Ellisrastak, geluk met haar verkiesing – “dit is nóg ʼn jong dinamiese vrou wat uitgestyg het”.

“Hierdie jong vroue se energie en vars benadering is aansteeklik en die VLU moes vernuwe om hulle te akkommodeer,” sê Ria verder.

Sy verduidelik dat die VLU vanjaar gaan fokus op die opheffing van die vrou en dat hulle tans besig is met voorbereidings om uit te reik na skooldogters.

Die VLU gaan deur middel van ʼn behoeftebepaling vasstel wat die dogters graag sal wil doen en leer en sy sê daar sal dan moeite gedoen word om die dogters daarmee te help.

“Dit sal prettig aangebied word sodat elkeen iets sal leer en dit geniet. Bosveldstreek bestaan uit tien takke en elke tak verrig gemeenskaps- en opheffingswerk in hulle betrokke gemeenskap. ’n Ingeligte vrou is ʼn aanwins vir haar gemeenskap,” beklemtoon Ria.

Dames wat belangstel om by die VLU in te skakel kan Ria skakel by 084 520 0120.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.