VLU Bosveldstreek se nuwe baba

Ria Strydom saam met VLU Marken se bestuur is v.l.n.r: Janette van Zyl as voorsitter, Alet Venter as sekretaresse, Marietjie Geyser (sittend) as skakel,
Engela Nel (agter haar) as tesourier en Madelene Venter as beoordelaarsameroeper

MARKEN — Ria Strydom, voorsitter van die VLU Bosveldstreek, sê die heel grootste voorreg het haar Donderdag 6 Julie te beurt geval toe sy ‘n nuwe VLU-tak kon stig en open.
Sy vertel dat Janette van Zyl en nog ‘n paar dames lede was van VLU Baltimore, maar hulle moes elke maand van Marken na Baltimore ry om die vergaderings by te woon.
Behalwe vir die haglike toestand van die pad, was daar soveel vroue in Marken wat behoefte gehad het om dinge saam met ander vroue te doen en meer te leer, maar hulle het nie kans gesien om elke keer die pad na Baltimore aan te durf nie.
Ria is op 16 Mei vanjaar na VLU Baltimore se vergadering wat by een van hulle lede se huis in Marken gehou was. Sy sê daar was soveel vroue van Marken wat die oggend opgedaag het dat sy besef het hulle verdien hul eie VLU-tak. Ria en Janette het begin praat en planne gemaak. Die uiteinde was dat VLU Marken Donderdag 6 Julie gestig en geopen is.
Hul eerste byeenkoms het afgespring met ‘n prettige werkswinkel waar Ria hulle gewys het hoe om twee hoenderboutjies te maak uit een hoendervlerkie.
Sy sê dit was groot pret terwyl elkeen haar hoendervlerkie bewerk het, maar die nuwe skeppings was gou in die oond en teen teetyd kon almal smul daaraan.
Teen druktyd was daar reeds 16 lede by VLU Marken. “Welgedaan Janette. Dit wil gedoen wees. VLU Marken se stigting en openingsdag sal lank onthou word” sê Ria.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.