VLU Bosveldstreekkonferensie

THABAZIMBI — Die VLU se Bosveldstreekkonferensie is vanjaar op 27 en 28 Februarie by Setaria in Thabazimbi gehou. Zonnebloemtak het dit aangebied.

Nicolette Steel was die gasspreker van die dag

Op die eerste dag van die konferensie het blommerangskikkings met temas soos Bosveld in ’n Mandjie, Veldteksture, Sonsondergang en Jagterstrots die vroue se asems weggeslaan.

Artikels van 2017 is uitgestal en daarna is almal weggestuur sodat die gasheertak, Zonnebloem, die saal as verrassing vir almal, kon opdollie.

Die vroue het op 28 Februarie reeds om 07:00 begin registreer en almal was verras oor die prentjiemooi saal en verskeidenheid talentvolle uitstallers.

Die geleentheid het amptelik om 08:30 begin met skriflesing en gebed deur ds De Jager. Hierna word almal hartlik verwelkom deur Ilna Schutte van Hardekoolkring.

Ria Strydom, streeksvoorsitter, stel al die spesiale gaste, naamlik Leanda le Cornu, Nicolette Steel, Tharina Rossel, Lilian Weber, Marita Eckard, Annatjie Dreyer, Wilma van den Heever, Joan Beukes, Desiree Kruss, Magda van der Walt en Arina Brink, bekend.

Leanda Le Cornu, president, open die konferensie met die spesiale boodskap – “die grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee is aanmoediging. Leer ken die mense om jou se omstandighede, deel jou vaardighede en wees onvoorwaardelik ’n vriendin.”

Tharina Rossel, SAVLU Presidente, het aangehaal uit Galasiërs 6: “moenie moeg word nie, doen goed, leef jou drome uit, leer ander, wees positief en menswaardig en ontdek jou eie gawes.”

Groeteboodskappe word oorgedra deur Lilian Weber van Soetdoringstreek.

’n Spesiale huldeblyk word gebring aan wyle Mara Lottering wat ’n lid was van Beautytak en Desiree Kruss steek ’n kers aan ter ere van Mara.

Wilma van der Heever van KANSA spreek die lede toe met die woorde: “hef ’n vrou op, wees ’n vrywillige besoeker aan pasiënte en bederf hulle.” Sy bedank die VLU-vroue vir hul positiewe gesindheid.

Magda van der Walt is Pêrelvrou van die Jaar. Sy is blind, maar laat haar nie deur haar omstandighede onderkry nie. Sy het reeds vier keer die Comrades voltooi, sy hekel, brei, doen naaldwerk, strooi suiker op pannekoek en ski. Sy dank die Here dat sy haarself kan ophef, baie vriendinne het en deel is van die VLU.

Nicolette Steel was die Spreker van die Dag. Haar boodskap is dat jy ’n vriendin moet wees om ’n vriendin te hê en dat mens jou foute moet erken. Sy sê ’n ma bepaal die atmosfeer in die huis, ’n mens kan jou liggaam vernietig maar nie jou glimlag nie en God glo meer in jou as jy in hom.

Die volgende lede ontvang vyf jaar lidmaatskap-toekennings:

Naomi Groenewald van Baltimore, Ina Kotze (Vaalwater), Linetha Fourie (Ellisras), Zona Visser (Vaalwater), Henriette Vorster (Ellisras) en Popsie Fletcher (Vaalwater).

10 jaar: Annalise Thornhill (Beauty) en 20 jaar: Ria van Zyl (Strewe).

Altie van der Linde (Beauty) word aangewys as die lid met die hoogste punte in beide streek- en Provinsiale artikels asook die algehele hoogste totaal; Chantelle Steynberg (Northam) is die Skakel van die Jaar, Northam is die top-tak en Beauty die wen-tak.

Bosveldstreekvoorsitter Ria Strydom word herkies in haar amp vir nog ’n termyn. Die lede van die VLU bedank almal wat deel gehad het aan die sukses van die konferensie en ’n spesiale dankie aan die borge.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.