VLU leer vaardighede vir vroue

LEPHALALE — Die vroue van Ellisras VLU is deeglik bewus daarvan dat die land swaar tye in die gesig staar met die ekonomiese en klimaatsveranderinge, daarom poog hulle om hande te vat en saam te woeker in hierdie tye om ‘n platform te skep vir almal wat bo hul omstandighede wil uitstyg.
Vaardighede word geleer en kennis word gedeel waarmee vroue hul lewens kan verryk en moontlik ook ‘n ekstra inkomste kan verdien.
Ellisras VLU sien met opgewondenheid uit na hulle markdag wat voortaan een keer per maand by ‘n koffiewinkel gehou gaan word. Ria Strydom, voorsitter van VLU Bosveldstreek het met die koffiewinkel onderhandel en hulle het ingestem tot die markdag. Dié dag gee vir vroue ‘n afsetgebied vir hul harde werk en mede VLU-lede kan Ria skakel indien hul handgemaakte artikels of vars produkte daar wil verkoop.
In lyn met die konsep om vroue vaardighede aan te leer, fokus Ellisras VLU vanjaar graag op die jonger geslag.
Hulle is bereid om tydens skoolvakansies vir skooldogters werksklasse aan te bied in onder meer koekversiering, gebak en die maak van juwele. Nog ‘n projek waarmee hulle wil begin is om met blomme te werk.
Daar is ‘n blomme-fundi in hulle geledere wat gretig is om vir belangstellendes te wys hoe om baie met min blomme reg te kry.
Om deel te word van hierdie dinamiese span, skakel Ria Strydom by 084 520 0120.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.