VLU Noord – 23ste kongres

MODIMOLLE — Die VLU Noord se 23ste kongres is onlangs gehou by Weesgerus buite Modimolle.

Die kongreswenners by VLU Noord se 23ste kongres

Hoogtepunte wat by die kongres aangekondig is, is die stigting van twee nuwe VLU-takke, naamlik die Marken en Sonskyntak en Leanda Le Cornu word vir nog ’n termyn verkies as President van VLU Noord. Louise Genis word aangewys as die nuwe VLU Noord-skakelbeampte en die dames neem afskeid van Joan Beukes.

Die volgende lede ontvang lidmaatskap-toekennings: Annamarie Blignaut van Modimolle (30 jaar), Wilma van der Merwe van Vaalwater, Sarah Roux van Polokwane en Wilna van den Heever van Modimolle (40 jaar), Anna du Toit van Polokwane en Reinetta Dykema van Settlers (50 jaar) en Marieta Eckard van Lephalale (60 jaar).

Dr Annette Martins het as spreker by die geleentheid opgetree, ten spyte daarvan dat sy haar man Vrydag 11 Mei 2018 begrawe het. Sy het die dames geïnspireer met haar boodskap dat liefdadigheid beteken om iets weg te gee wat jyself nodig het.

Merle Payne is die Kunstenaar van die Jaar en sy het in haar toespraak gesê sy voel geëerd om deur die VLU as kunstenaar aangewys te word. Sy het op ’n jong ouderdom by haar ouma geleer borduur, hekel, brei en naaldwerk doen. Sy het vir 18 jaar trourokke gemaak en dit verruil vir konsultasiewerk vir die TV-reeks, 7de Laan. Hierna het sy teruggekeer na haar geboortedorp, Magoebaskloof, en nou deel sy haar vaardighede met jong opkomende entrepreneurs.

Ina Lessing van die plaas Lusthof net buite Modimolle (Nylstroom) word aangewys as die VLU Noord se Persoonlikheid van die Jaar. Sy was ook Landbouweekblad se vroue-entrepreneur vir 2014. Lessing het vertel dat sy jaarliks vanaf Desember tot Februarie konfyt kook in die Kaap. Werkers word per trein aangery. Daar word in ses weke 70 000 bottels ingelê en 20 ton suiker verwerk. Twee van haar kinders het hulle beroepe in die onderwys prysgegee om by haar onderneming aan te sluit. “Jou voetspore los iets kosbaar in elkeen se hart,” het Lessing afgesluit. 

Soos elke jaar was die prysuitdeling ’n groot hoogtepunt. Van die lede wat vanjaar uitgestaan het is Riana Oosthuizen vir die lid met die meeste punte en Chantelle Steynberg as top-takskakel.

Die Bosveld-, Soetdoring- en Koraalstreek eindig onderskeidelik in ’n eerste, tweede en derde plek.

Daar is tot laataand gekuier saam met Elme Jacobs, die kunstenaar vir die aand. Die tema van die aand was “Purple Hats” en die dames was behoorlik uitgevat met hulle hoede.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.