Vlu Noord-kongres in die kol!

Cecilia Slykhuis (née Nortje) saam met Leanda Le Cornu President VLU Noord

Maritsa Jacobs
MODIMOLLE — VLU Noord se 22ste kongres is op 10 en 11 Mei te Weesgerus in Modimolle (Nylstroom) gehou en die vroue wat dit bygewoon het kan nie uitgepraat raak oor die voorreg wat dit was om deel te wees van so ‘n besondere geleentheid nie.
Ina Wilken was die Spreker van die Geleentheid wat haar boodskap met passie oorgedra het. Sy het gepraat oor die VLU se Tema van die Jaar, naamlik In die kol, ingelig en sy het gesê dat die vrou oral teenwoordig is.
Sy het die verskillende stadiums van vrouwees komies verduidelik aan die hand van ‘n staaltjie oor ‘n “pers hoed” en eindig daarmee dat vroue op die ouderdom van 80 uiteindelik vrede het met wat die wêreld van hulle dink. “Jy sit jou pers hoed op, gaan uit en hê pret!”
Bekende inwoner van Lephalale en romanskrywer, Cecilia Slykhuis (née Nortjé) deel haar storie oor hoe dié gebore Ellirasser wat sewe jaar lank kaalvoet skool toe gegaan het (Laerskool Libertas) uiteindelik ‘n skrywer geword het. “Om ‘n boek te skryf is glad nie so maklik soos wat almal dink nie, maar die gevoel wanneer daardie eerste manuskrip aanvaar word, is onbeskryflik” sê sy.
Cecilia het almal bedank wat haar boeke koop asook die lesers wat haar op straat voorkeer om vir haar te sê hulle het haar boek gelees. “Dit is sulke dinge wat elke oomblik van skryf in afsondering die moeite werd maak. Dit maak saak. Dit maak die ure voor die rekenaar en die spasmas in my skouers die moeite werd” sê sy. Cecilia het die persoon wat haar genomineer het as die VLU se Skrywer van die Jaar bedank en gesê dit is vir haar ‘n groot voorreg.
Anriëtte van Rooyen en Elma Postma was die kunstenaars by die geleentheid. Anriëtte het op ‘n plaas in Letsitele grootgeword en sy en haar man en drie kinders woon steeds daar. Sy sê sy het haar kreatiwiteit op die platteland ontdek. Daar is tot laat gekuier te midde van die feestelike rooi en swart Spaanse tema.
Die prysuitdeling is gewoonlik ‘n groot hoogtepunt en die volgende prestasies is aangekondig:
Riana Jooste as die lid met die hoogste punte; Soetdoringstreek as die wenstreek met 3 671 punte; Bosveldstreek as naaswenners met 3 417 punte en Koraalstreek in die derde plek met 3 303 punte.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.