VLU-nuus

Lentedans in Babsfontein

BEAUTY — Beauty VLU het Saterdagaand ʼn “Babsfonteindans” by Tom Burke-boeresaal gehou.
Die Babsfonteindanse was jare gelede baie bekend en gewild – alle danspaaie het gelei na Bapsfontein Hotel!
Die goeie herinneringe daaraan het die Beauty’s laat dink dis ʼn goeie tema vir ʼn lentedans.
Bosvelders, oud en jonk, het Saterdagaand die Bapsfonteindanse herleef en lekker gekuier en -dans op musiek van dié era.

Bande ruil vir vroue?

LEPHALALE — Die vroue van Ellisras VLU het ʼn baie leersame vergadering in Augustus gehad. Werner Erasmus van Hi-Q in Lephalale het ʼn volledige aanbieding gegee oor wat om te doen indien jou voertuig se band pap is en hoe om ʼn pap band te ruil.
Hy het ook gewys waar die verskillende voertuie se spaarbande gebêre word. Die vroue was die ene oë en ore en het saamgestem dat hulle liefs stadig met die pap band sal ry totdat hulle kan hulp kry.
Charlene van Eeden, voorsitter, sê sy probeer altyd om ʼn aktiwiteit te reël wat ʼn verskil kan maak in die vroue se lewens en terselfdertyd ook leersaam en opbouend is.
Mogol Pos het die petalje van die kant af bekyk en self besluit dat dit makliker is om langs die voertuig in die koelte te gaan lê en wag vir hulp as om te probeer om boute los te draai.

Leave a Reply