VLU-nuus

Ywerige Steenbokkies

STEENBOKPAN — Steenbokpan VLU het ’n heerlike Valentynsvergadering by Mia Frost gehou. Ria Strydom, Streekvoorsitter, het die tak besoek en Retha Human het wenke gegee vir die preservering van perskeblatjang. Sandra van Staden gee idees vir ʼn hekelhouer.

Agter v.l.n.r.: Ilana Venter, Mini Oelofse, Sandra van Staden, Hannelie Wessels, Mia Frost, Katrina Brummer, Tharina Pelser, Joan Beukes en Ann Currie en voor: Dalene du Plessis, Lorraine Frost, Ria Strydom en Trudie Venter

Sy bring oulike bakkies wat sy gehekel het en leer die dames hoe dit gestyf moet word. Die tak sien uit na die Bosveldstreekkonferensie wat op hande is. Die laaste beplanning is ook gedoen vir die uitstalling van die Tema – “Hef ’n vrou op”. Vir die werksklas het elkeen ’n boekmerk ingekleur met ʼn spesiale boodskap op wat aan elke lid uitgedeel gaan word wanneer sy verjaar. Die dames wys hulle liefde ook vir ander deur nie-bederfbare produkte te bring vir gesinne in die omgewing wat swaarkry. Die gasvrouens het die lede met ʼn heerlike middagete bederf vir Valentynsdag.

Die tak se volgende vergadering is 14 Maart 2018. Skakel vir Joan Beukes by 014 766 0186 of Ilana Venter by 014 779 0608 vir meer inligting.

Beauty VLU leer van Bonsais

BEAUTY — Beauty VLU het op 13 Februarie by Magda Byles se huis vergader en onder andere Valentynsdag gevier.

Johan du Preez wys hoe ʼn boompie gesnoei word en Desiree Kruss kyk aandagtig toe

Johan du Preez het sy gunsteling stokperdjie, die kweek en instandhouding van bonsais, gedemonstreer. Hy het gewys hoe om ’n boompie te snoei, te bedraad, te plant en te versorg.

Inligting en riglyne is deurgegee oor die kompetisies wat deur die jaar plaasvind asook die konferensie wat eersdaags gehou word en natuurlik was almal in rooi getooi vir Valentynsdag.

Skakel Adele Engelbrecht by 079 515 6357 vir meer inligting oor Beauty VLU se doen en late.

VLU Bosveldstreek ingelig

LEPHALALE — Die VLU Bosveldstreek het Donderdag 8 Februarie ʼn inligtingsdag gehou. Daar is tydens dié geleentheid aan die VLU-lede gewys watter artikels vir 2018 gemaak moet word en die reëls rondom die maak daarvan is verduidelik.

Artikels wissel van ʼn gehekelde randjie om ’n teenet tot intarsia breiwerk.

Desiree Kruss word bedank vir al haar harde werk om die dag moontlik te maak.

Ellisras VLU leer oor listeriose

LEPHALALE — Die lede van Ellisras VLU is Donderdag 15 Februarie tydens hulle maandvergadering toegespreek deur Ingrid Lewis, gemeenskaps-gesondheidverpleegkundige.

Sy het gepraat oor listeriose, ʼn siektetoestand wat die laaste tyd toenemend voorkom, en sy het verduidelik hoe dié lewensbedreigende siekte voorkom kan word.

Was jou hande deurlopend wanneer jy met kos werk; was groente en vrugte sorgvuldig voor gebruik; hoender en vis moet goed gaargemaak word en nie lank staan voordat dit geëet word nie; wees versigtig om voorbereide kos te eet wat lank gestaan het – veral in die warm Bosveld.

Sy het ook beklemtoon dat ouer mense en babas met ʼn laer weerstand die virus makliker kan kry.

Ellisras VLU se volgende vergadering word Donderdag 15 Maart vanaf 09:00 by die NG Kerk Albertyn se kerksaal gehou.

Skakel Marika van Zyl by 082 824 6286 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.