VLU Vaalwater — 1956 tot 2016

Zona Visser, Maureen Boshoff en Kotie Hedin poseer in antieke kledingstukke
Zona Visser, Maureen Boshoff en Kotie Hedin poseer in antieke kledingstukke

VAALWATER — Lede van VLU Vaalwater, saam met ‘n aantal uitgenooide gaste, het Dinsdag 26 Julie die tak se sestigste bestaansjaar gevier. Die tak is in 1956 deur ‘n paar vroue, onder leiding van Lettie van der Merwe (neé Louw), gestig.
Die groep vroue was bevoorreg om Sophia Coetzee in hulle midde te verwelkom. Sy was een van die oorspronklike stigterslede wat in November 1956 aange-sluit het en reeds vir 56 jaar ‘n lid van die tak is.
“Tannie Sofia het nog altyd ‘n bydrae gelewer tot die tak se groei, ontwikkeling en vooruitgang. Sy neem ook steeds aktief deel aan maandelikse aktiwiteite wat die tak aanpak,” sê Zona Visser, skakelbeampte.
Nog ‘n oud-lid, Kotie Hedin, wat in 1968 by die tak aangesluit het, het die dag bygewoon.
“Kotie Hedin het groot moeite gedoen en die saal versier met verskeie antieke kuns, naaldwerk, klerasie, meublement en ou tydskrifte uit haar eie museum wat dateeer vanaf 1956 tot nou” sê Visser.
“Die uitstallings het van ons lede ver teruggevoer na hulle kinderjare en ander het hulle verkyk aan artikels wat hulle nog nooit gesien het nie, soos die heel eerste staalkrultang vir hare,” het Visser laggend vertel.
‘n Paar van die lede het modeskeppings aangepas wat dateer tussen die jare 1960 tot 1980 – tot groot vermaak van almal.
“Dit is vir ons so lekker om te kan sê dat Vaalwater VLU, nadat dit op ‘n stadium amper tot niet gegaan het omdat daar te min lede was, nou vir die afgelope vier jaar aktief funksioneer – eers onder leiding van Wilma van der Merwe wat intussen uitgetree het as voorsitter en nou onder leiding van Nadine Goddard, die huidige voorsitter” sê Visser.
Visser sê dit was ‘n heerlike dag waar almal gesellig saam kon kuier en die tak het boonop drie nuwe lede bygekry wat hulle met ope arms verwelkom.
Vaalwatertak onthou:
2006 — Die tak wen ‘n trofee vir die beste uitstalling by die Bosveldstreekkongres;
2008 — Besoek Hester du Plessis se Aalwynplantasie in Junie. Daar is meer as 2 000 aalwyne, waarvan 20 suiwer spesies is;
2009 — VLU-lede maak kos vir 100 mense tydens die Waterberg Wildfees. Hulle word ook aangewys as wenners van die beste voor- en nagereg tydens die Sjef van die Jaar-kompetisie;
2013 — Projek Kombersie vir brandslagoffers. Hulle werk saam met die Hero Burn Foundation;
2014 — Ontmoet die kruie-ikoon Margaret Roberts tydens ‘n uitstappie na haar kruieplaas;
2015 — Lede ontmoet die bekende skrywer Irma Joubert;
2016 — Vaalwatertak bied ‘n suksesvolle 21ste Bosveldstreekkonferensie aan.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.