VLU vir veilige wapens

Agter v.l.n.r: Carlien Vosloo (vise-voorsitter), Kotie Hedin, Susan Steynberg, Stompie Vermeulen, Popsie Fletcher, Nadine Goddard (voorsitter) en Wilma van der Merwe (beoordelaarsameroepster) en voor: Riaan van Zyl en Zona Visser (skakelbeampte)
Agter v.l.n.r: Carlien Vosloo (vise-voorsitter), Kotie Hedin, Susan Steynberg, Stompie Vermeulen, Popsie Fletcher, Nadine Goddard (voorsitter) en Wilma van der Merwe (beoordelaarsameroepster) en voor: Riaan van Zyl en Zona Visser (skakelbeampte)

VAALWATER — Die dames van die VLU Vaalwatertak het ‘n week of wat gelede hulle maandelikse vergadering gehou, maar dié keer was dit ‘n vergadering met ‘n verskil. Geen materiaal, koek, tee of ander handewerk was in sig nie.
Die vroue het Riaan van Zyl besoek. Hy is die eienaar van ‘n wapenwinkel, asook ʼn geregistreerde en geakkrediteerde agent wat wapeneienaars oplei en toets vir bevoegdheid van ʼn vuurwapen.
Van Zyl het eers die reëls en regulasies rondom wapengebruik en hoe om aansoek te doen om ʼn wapen te kan besit verduidelik. Daarna het ʼn volledige demonstrasie van die gebruik van ʼn vuurwapen, die laai en ontlaai, skoonmaak en veilige stoor daarvan gevolg.
Die span entoesiastiese vroue het daarna ʼn skiet oefensessie op Van Zyl se skietbaan gehad.
Volgens Zona Visser, skakelbeampte van VLU Vaalwater, was dit vir sommige van die vroue die eerste keer op ‘n skietbaan en ‘n groot uitdaging om ‘n wapen te hanteer. “Wat duidelik uit die praatjie uitgestaan het was dat elke wapeneienaar goed vertroud moet wees met sy of haar eie vuurwapen en in oefening moet bly met die gebruik daarvan,” het Visser verder gesê.
“Lisensieer die persoon en nie die wapen nie. Dit is nie die wapen wat die mens beseer nie, dit is die persoon,” het Van Zyl aan die vroue verduidelik.
Skakel Zona by 083 357 0503 vir meer inligting oor VLU Vaalwater. Hulle volgende vergadering is Dinsdag 31 Mei by die Gereformeerde Kerk, Vaalwater.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.