VLU vroue vertel…

Henriette Vorster
LEPHALALE — Linetha Fourie het vier jaar gelede vanaf Carletonville na Lephalale verhuis en ‘n VLU-vergadering op uitnodiging van Ria Thuynsma bygewoon. Linetha was 35 jaar deel van Carletonville se blommeklub en toe sy sien die VLU het ook ‘n blomme-afdeling, het sy dadelik besluit om aan te sluit.
Sy sê die samesyn en vriendelikheid tussen die mede VLU-lede is vir haar baie besonders en sy het al baie nuwe dinge geleer. Haar kennis van konfyt kook het so verbeter dat sy deesdae konfyt uitdeel. By die VLU het sy geleer hoe om volgens ‘n patroon te brei. Sy sê die kommentaar met die beoordeling van haar artikels is vir haar opbouend en inspirerend en dat sy uit haar foute kan leer.
Sy het hegte vriendskappe gesluit by die VLU en hoop om nog lank deel te wees van die organisasie. Linetha moedig ander vroue aan om by die VLU aan te sluit.
Annemarie Els het ongeveer 13 jaar gelede by die VLU aangesluit nadat ‘n destydse vriendin haar uitgenooi het. Sy was beïndruk en geïnspireer. Sy geniet ook die samesyn tussen vriendinne en sien uit na die blootstelling wat sy kry aan nuwe projekte asook die geleenthede om te eksperimenteer.
Haar heel eerste blommerangskikking-kursus was ‘n belewenis wat sy nooit sal vergeet nie en sy het al pryse ontvang vir haar eie rangskikkings. Sy het ook geleer hoe om met gis te werk en ‘n prys ontvang vir bakwerk met gis. Die konferensies en kongresse en die verskeidenheid gassprekers is altyd vir haar ‘n hoogtepunt.
Annemarie sê sy beleef die VLU as ‘n diepgewortelde kultuurerfenis wat behoue moet bly en sy moedig vroue aan om aan te sluit. “Hier kry mens die geleentheid om te ontdek, te beoefen en uit te leef” sê sy.
Skakel Ria Strydom by 084 520 0120 vir meer inligting omtrent Ellisras VLU.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.