VLU vroue vertel…

Bettie Pistorius, Magda van Koert en Johanna van der Merwe
Bettie Pistorius, Magda van Koert en Johanna van der Merwe

LEPHALALE — Die Suid Afrikaanse Vroue Landbou Unie (SAVLU) bestaan al vir 85 jaar. Die organisasie is gedurende die depressiejare gestig en die behoefte was daar vir vroue om bemagtig te word om hul gesinne by te staan. Wat beteken die VLU egter vir die moderne vrou?
Bettie Pistorius is reeds die afgelope 17 jaar deel van Ellisras VLU. Haar passie is borduur- en naaldwerk. Sy sê die VLU het haar selfvertroue gegee om haar handewerk ten toon te stel. Sedertdien het sy al baie vroue onder haar vlerk geneem en touwys gemaak. Sy het met haar hart en siel deel geword van die organisasie en was in 2014 aangewys as VLU Noord se Persoonlikheid van die Jaar. Bettie vertel dat sy onder aanmoediging van die VLU haar hand vir die eerste keer aan tegnieke soos Mount Mellic borduurwerk en ‘pettit four’s’ teeversnaperings geslaan het. Vir Bettie is die takvergaderings die tyd waar sy vriendskappe oor die jare heen gemaak het en steeds koester en bewaar. Sy glo die wisselwerkende leerprosesse tussen ou en nuwe VLU-lede is belangrik en dit skep vreugde in haar eie lewe.
Johanna van der Merwe is vir die afgelope vyf jaar ‘n lid van Ellisras VLU. Sy is ‘n kreatiewe mens en die VLU bied haar geleenthede om haar passies uit te leef tussen ander vroue wat dit ook geniet om skeppend te wees. Of dit nou blomme rangskik, handvlyt, naaldwerk of konfytkokery is, sy sien uit daarna om nuwe dinge by takvergaderings te leer. Volgens Johanna is die VLU steeds ‘n relevante organisasie vir vroue van vandag, omdat dit vroue se lewens verryk op verskeie vlakke.
Skakel Ria Strydom by 084 520 0120 om op 25 Februarie die volgende takvergadering van Ellisras VLU by te woon en jou lewe te verryk.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.