
VAALWATER — ʼn Motoris het Sondagoggend 11 Junie om 02:30 op die R33 tussen Modimolle en Vaalwater beheer oor sy voertuig verloor en die voertuig gerol.
ʼn Plaaswerker wat naby die R33 woon het iemand om hulp hoor roep en het hulp asook die polisie ontbied. Die bestuurder, wat alleen in die voertuig was, moes met behulp van lewenskake uit sy voertuig gesny word.
“Die man, hy het gesê sy naam is Deacon, was onderweg om die Rapport-koerant in Vaalwater en Lephalale te gaan aflewer,” sê Christo Venter, hoof van Vaalwater se gemeenskapspolisiërings-
forum (GPF) en eienaar van die Geluksfontein Bokmelkkaasplaas. Die ongeluk het voor sy plaas se ingang gebeur.
“Ek voel regtig dat SANRAL borde op hierdie deel van die R33-pad moet aanbring om motoriste te waarsku dat dit ʼn hoë ongeluksone is. Hier is ten minste een keer per maand ʼn ongeluk op dié pad” sê Venter.
“Die man beweer dat hy ʼn wilde dier oor die pad sien hardloop en uitgeswaai het om te verhoed dat hy die dier stamp,” sê konstabel Simon Makhuvele van die Vaalwater Polisie.
“Die bestuurder van die voertuig het geen ernstige beserings opgedoen nie en volgens die polisie is die bestuurder ‘n mnr. J Grobler” het Makhuvele verder gesê.