Vrou kry haar boer

LEPHALALE — Daar is ʼn tyd vir alles, ook vir liefde vind. Dit het Meliza Hendriks (23) van Lephalale besef die dag toe sy in Stoffel Boshoff se oë kyk.

Van oor tot oor – dis hoe breed dié twee liefdesduifies glimlag. Met reg ook!

“Ek het die oggend van 10 Augustus om 09:15 my man ontmoet,” sê sy.

Stoffel (31) was in 2017 een van die boere in die kykNET-program, Boer soek ʼn vrou. Hy was egter nie een van die top-5-boere nie en kon op sy eie tyd ʼn meisie soek, weg van die TV-kameras. Toe al tien boere en hulle metgeselle aan die einde van die reeks reünie toe gaan, het Stoffel alleen opgedaag. Die liefde was hom nie beskore nie.

Dit het egter alles binne ʼn oogwink verander. Meliza vertel dat die mense op een van hulle buurplase Donderdagaand 9 Augustus vanjaar vir haar gesê het Stoffel van Boer soek ʼn vrou is by hulle. “Ek het nie ʼn idee gehad van wie hulle praat nie,” sê sy.

Die bure sê toe vir Meliza hulle bring Stoffel die volgende oggend na haar toe sodat sy hom kan ontmoet want sy mense begin bekommerd raak omdat hy nie ʼn vrou kry nie – hulle is bang hy gaan alleen oud word. “Intussen is my mense ook bang ek kry nooit ʼn man nie omdat ek blykbaar baie vol draadwerk is,” verduidelik sy.

Vrydagoggend kom ene Stoffel toe saam met die buurvrou daar aan – spesiaal om Meliza te groet.

Hulle het koffie gedrink en skaars ʼn halfuur later daag al sy jagmaats ook by die Hendrikse op.

“Dit was vir ons reg, maar toe los hulle hom net daar by my vir die hele dag. Dit was uiteindelik goed, want toe hy begin help met die werk toe sê die werkers met dié man moet ek trou.

“Ek was dadelik tot oor my ore toe verlief. Hier sit my ideale trouman voor my. ʼn Regte boer wat hard werk en hy het boonop ʼn Vrystaatrugbytrui gedra,” sê sy.

Sy het hom die Saterdagoggend gaan groet voor hy en die ander jagters terug is Vrystaat toe.

“Terwyl hulle op pad huis toe is stuur hy vir my hy voel soos ʼn seuntjie wat vir die eerste keer fiets gery het. Ek kyk toe daai Saterdagmiddag sy video van Boer soek ʼn vrou, want ek kon hom steeds nie onthou nie en in die video beskryf hy sy ideale vrou en hy sê as hy sy trouvrou kry sal hy soos ʼn seuntjie voel wat vir die eerste keer fiets ry.

Meliza sê sy is reg vir iemand in haar lewe. “Ek het so hard gesoek na iemand totdat ek eendag besef het ek moenie soek nie, hy sal op die regte tyd na my toe kom. En hy het – presies op die regte tyd.

“Dis moeilik om te beskryf hoe mens weet iemand is die regte een vir jou, maar mens weet net, jy kry daardie gevoel in jou. Ons het dadelik geweet ons is ʼn ‘match’”.

Meliza sê sy is reg vir die Vrystaat waar Stoffel boer, maar is sy reg vir die huis waarheen sy moet trek? “Stoffel is ʼn perfeksionis, presies die teenoorgestelde van my, so die huis is klaar reg, ons moet nou net plek maak vir my goedjies,” vertel ʼn verliefde Meliza.

“Ons het 11:11 op die oggend van 11 November (in die 11de maand) verloof geraak. Hy het dit presies só beplan,” sê sy.

Meliza sê sy het geweet hulle gaan verloof raak, maar sy het dit nie so gou verwag nie. “Hy het baie gewerk, so ek het nie gedink daar is tyd vir beplanning om ouers te vra en ʼn ring te soek nie, maar hy het dit vir seker baie goed beplan – alles was perfek, ʼn hele dag vol verrassings en bederf. Ek dink my ma en pa was toe nog in skok omdat hy so uit die bloute kom ouers vra het.”

Sy sê sy het nooit geglo daar is iets soos liefde met die eerste oogopslag nie, maar nou glo sy dit vas. “Toe ek hom sien, toe weet ek – natuurlik het ek my hart probeer beskerm, maar ek het net daardie gevoel gehad en hy het dit heeltemal onmoontlik gemaak om daardie mure om my hart te laat staan, hy het hulle vinnig-vinnig afgebreek.”

Die twee duifies het nog nie vaste planne vir Kersfees nie, maar hulle sê hulle sal vir seker bymekaar wees.

“Dit gaan moeilik wees om die bosveld agter te laat, dis al wat ek regtig ken, maar ons sal baie kom kuier. Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms vir my en Stoffel inhou nie, ek weet net dit sal ʼn perfekte toekoms wees, presies soos wat die Here dit beplan,” sê Meliza.

Stoffel Boshoff en Meliza Hendriks trou op 6 April 2019 in Lephalale.

ʼn Ware romanse in ʼn tyd waar mens oorval word met negatiwiteit, misdaad en mismoed. Mag dié twee vir altyd so gelukkig wees.

(Die TV-reeks Boer soek ʼn vrou, het al verskeie boere uit die Lephalale/Vaalwater/Alma-omgewing opgelewer.

Linnaé Reyneke, oud-Ellisrasser, is tans te sien in die huidige reeks van Boer soek ʼn vrou 2018 as een van boer Cassie se meisies – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.