Vuil water “gespoel”

LEPHALALE — Inwoners van Onverwacht en Lephalale-dorp is die afgelope tyd raadop oor die bruin water wat deur die munisipale waterverskaffingsisteem na huis-houdings versprei word.

Mogol Pos is oorval met klagtes oor wasgoed wat vlek en mense wat die water gedrink en na bewering siek geword het.

Volgens die Lephalale Munisipaliteit is hulle bewus van die probleem. Hulle sê hulle is tans besig met ’n ondersoek om ’n toepaslike oplossing vir die probleem te vind.

’n Inspeksie op die hoofwaterpyplyn van Zeeland na Onverwacht en Lephalale is Donderdag 30 Januarie gedoen en geen waterlekke, wat moontlik tot die vuil water kon lei, is gevind nie.

Die munisipale instandhoudingspan het verder op 30-31 Januarie 2020 gebiede rondom Onverwacht en Lephalale geïdentifiseer wat geneig was tot vuil water en die brandkrane langs die strate wat geraak was is gespoel. Die vuil water was gespoel totdat dit skoon was. Die Ledibeng-areas is op 1 Februarie gespoel en nadat die stelsel gespoel was, is die water in die meeste gebiede steeds skoon.

Die munisipaliteit vra om verskoning vir enige ongerief wat deur die vuil water veroorsaak is.

“Julle samewerking en geduld sal hoog op prys gestel word,” sê hulle.

Skakel die bestuurder van Waterdienste, April Shiko, by 082 411 0119 of 014 762 1474 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.