Vuurdoop vir WoF

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n Verteenwoordiger van die Working on Fire (WoF) span in Lephalale, Silelo Kobe, het Donderdag 18 Februarie tydens ‘n vergadering van die Landelike Veiligheidsforum (LVF) gesê die grootste probleem waarmee hulle te doen kry is die feit dat hulle nie ‘n voertuig het nie.
Van die grondeienaars en –bestuurders wat die vergadering bygewoon het, het onomwonde gesê dat hulle nie van WoF se dienste gebruik sal maak nie, omdat daar in die geval van brande nie tyd is om eers Marapong toe te ry om mense te gaan oplaai om te help met die blus van brande nie.
Pieter du Plessis, vorige voorsitter van die brandbestrydingsvereniging (BBV), het gesê die meeste brande ontstaan ná ure, byvoorbeeld definitief na 14:00 in die middag, en na 17:00 moet die WoF-span oortyd betaal word.
Hulle moet ook na ure van kos voorsien word. Dit is dus makliker om self in te spring en mense uit jou onmiddellike omgewing kry om te help. Du Plessis het beklemtoon dat hy uit eie perspektief praat en nie uit die mond van die BBV nie.
George du Toit, bestuurder van Dombeya Conservancy, het dit beaam en gesê dat die grondeienaars in hulle omgewing die brande self hanteer en nie tyd het om eers mense te gaan oplaai nie.
Kobe het gevra dat die BBV ‘n amptelike versoek vir ‘n voertuig by die WoF se hoofkantoor indien. Die algemene reaksie van die vergadering was dat daar vir ‘n voertuig aansoek gedoen kan word, maar die versoek moet haalbaar wees. Dit kan gebeur dat die plaaslike WoF ‘n voertuig kry en dat dit nie gebruik word nie. As ‘n voertuig aangevra word moet die lede van die BBV hulle daartoe verbind om wel van die dienste van die WoF gebruik te maak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.