Vuurwapenfees — 1 September 2018

LEPHALALE — Die jaarlikse Vuurwapenfees by die Knapskoot-skietbaan vind vanjaar op 1 September plaas en skuts word herinner daaraan om vanjaar hulle wapens EN patrone saam te neem.

Volgens dr Willie Barnard, organiseerder van die Vuurwapenfees, is dit geen geheim dat PMP se borgskap van die ProAmm-groeperingskiet landswyd beëindig is nie, maar dit beteken nie die Vuurwapenfees gaan nie voort nie.

“PMP was vir 18 jaar die hoofborg by die jaarlikse Vuurwapenfees, maar die onttrekking van die borgskap beteken nie dat die Vuurwapenfees nie voortgaan nie.

Die konsep van ’n groeperingskiet met standaard jaggewere bly ’n uitstekende idee vir ’n skietkompetisie in die jagwêreld. Skuts kry die geleentheid om deel te neem met wapens wat hulle reeds besit, sonder die gevaar dat dit in ’n toerustingwedloop sal ontaard,” sê hy.

Groeperingskiet sal steeds die hoofitem by die Vuurwapenfees wees, die enigste ding wat verander het is dat skuts hulle eie ammunisie moet saamneem – herlaaide ammunisie is toelaatbaar.
Die reëls ten opsigte van die toerusting bly dieselfde, naamlik:

  • Maksimumloopdikte van 22 mm;
  • Teleskoopvergroting beperk tot 12 x;
  • Geen beperking op looplengte nie;
  • Knaldempers toegelaat;
  • Trompremme en blitsbrekers verbode.

Skuts kry ʼn teiken met twee kolle op waarop twee drieskootgroeperings geskiet word. Opwarmingskoot is toelaatbaar. Die groeperings word onafhanklik van mekaar gemeet en die kleinste groepering wen.

Daar sal pryse wees vir die kleinste tien groeperings algeheel, die beste drie dames en die beste drie junior skuts.

Al die ander items soos kleipiering-, grootkaliber-, jaggeweer-, handwapen-, junior .22- en Boer en Brit-skiet gaan voort soos altyd.

Skakel dr Willie Barnard by 083 292 5419 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.