Vuurwapenfees ‘n fees

Algehele wenner Elmo Lourens

LEPHALALE — PMP/ProAmm se Vuurwapenfees by Knapskootskietbaan is Saterdag 26 Augustus vir die 20ste keer aangebied. Die skietkompetisie word jaarliks geborg deur PMP/ProAmm en dit het mettertyd ontwikkel tot ʼn landswye kompetisie.
Deelnemers van so ver as Bethal, Cullinan, Messina, Rustenburg, Pretoria, Witbank en Natal het opgedaag en volgens dr Willie Barnard, stigter van die Vuurwapenfees, is groot vriendskappe oor die jare gesmee.
Die inskrywings vir PMP/ProAmm-groeperingskiet is Vrydag vanaf 18:00-20:00 gedoen.
Met die klap van Ou Grietjie, die replikakanon, se skoot Saterdagoggend is die fees amptelik oop verklaar.
Elmo Lourens van Bethal is aangewys as die algehele Wenner van die Dag met ʼn groepering van 2,51 mm. Hy stap weg met die gesogte wennertrofee van PMP/ProAmm, ammunisie en ʼn kontantprys van R5 000, geborg deur die Vuurwapenfees.
Elmo se vrou, Sonja Lourens, was kort op sy hakke in die tweede plek met ʼn groepering van 4,3 mm. Sy stap weg met ʼn kontantprys van R1 000 en talle ander pryse. Kobus en Elise Schoeman, ook van Bethal, was in die derde en vierde plek met groeperings van onderskeidelik 6,2 mm en 7,03 mm.
Sonja is die damestrofeewenner met Elise in die tweede plek.
Hanco Schoeman wen die eerste, tweede en derde plek in die junior afdeling en Christiaan Bronkhorst, ʼn leerder van Hardekool Akademie, behaal ʼn eerste plek in die o. 14-afdeling vir junior opleiding.
Na die prysuitdeling is daar heerlik saam gekuier en geëet aan tradisionele potjiekos, sosaties en gebakte poeding.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.