Waarheen gaan ons Bosveldvisvanger?

Die Bosveldvisvanger en Warwick Tarboton, ʼn inwoner van Modimolle, wat die studie oor die Bosveldvisvanger gedoen het
Die Bosveldvisvanger en Warwick Tarboton, ʼn inwoner van Modimolle, wat die studie oor die Bosveldvisvanger gedoen het

Warwick Tarboton was ‘n spesialis wetenskaplike (ornitologie – die wetenskaplike studie van voëls) in die voormalige Transvaal se direktoraat van natuurbewaring. In 1996 het hy vroeg afgetree om sy eie belangstellings en passies na te volg, vryskutwerk te doen en ook deur Suider-Afrika te reis in ʼn soektog na voëls en naaldekokers.
Hy is die outeur/skrywer of mede-outeur/skrywer van verskeie boeke, insluitend die baie bekende Sasol Veldgids Tot Suid-Afrikaanse Voëls. Tarboton en sy vrou, Michèle, het ook onlangs ‘n Veldgids tot die Naaldekokers van Suid-Afrika vrygestel.
Tarboton was ʼn gasspreker by die Waterberg Nature Conservancy vergadering wat Donderdag 18 Februarie vanaf 14:00 by die die NG Kerk se lapa in Vaalwater gehou is.
Die doel van sy praatjie was om ʼn baie belangrike vraag van die bosvelders te beantwoord. Waarhee verdwyn ons Bosveldvisvanger?
“Die Bosveldvisvangers arriveer gewoonlik om en by die 11de November elke jaar en sal gewoonlik teen die 15de Maart weer vort wees. Gedurende ons studies het ons opgemerk dat die voëls grootliks gedurende die nag migreer en dit is hoekom jy net een oggend wakker word van hulle skril gefluit en weer ʼn ander oggend opstaan en dan het hulle net eenvoudig almal oornag uit jou tuin verdwyn,” verduidelik Tarboton.
Tarboton het reeds vier jaar gelede besluit om uit te vind waarheen die voëltjies vir die res van die jaar verdwyn en mikro-grootte opspoorders, wat lig genoeg is, moes gevind word. “Die Bosveldvisvangermannetjie en -wyfie lyk byna dieselfde en elk weeg gemiddeld 60 gram. Die opsporingstegnologie moes dus baie lig wees en ons het uiteindelik ʼn maatskappy in Engeland opgespoor wat mikro-opspoorders het wat net 0.9 gram weeg. (Geo-locator). Die opspoorder kan nie ʼn sein stuur nie, maar is groot genoeg om vir ʼn jaar lank inligting bymekaar te maak voordat dit afgelaai kan word” het Tarboton verduidelik.
“Ek het ʼn broeipaar in my tuin by Kokanje, Modimolle, identifiseer en nog ʼn aantal inwoners van Modimolle het aangebied dat ons Bosveldvisvangers in hulle tuin kon gaan vang, merk en die opsporingsapparaat aan hulle vasmaak.”
Uit die 16 voëls wat as deel van die projek bestudeer is en wat opsporingsapparate ontvang het, het slegs twee heeltyd teruggekeer. Hulle data kon dus bestudeer word. Die res van die voëls is nooit weer gesien nie.
Die Geo-locators wat gebruik is, neem elke drie minute ʼn lig intensiteitlesing. Omdat die son op geen twee plekke op aarde presies dieselfde op- en ondergaan nie, was dit maklik om vas te stel waarheen die voëls gevlieg het nadat die data ontleed is.
Die vroulike Bosveldvisvanger het die lug gevat na die Sentraal Afrika Republiek, waar sy vier maande vertoef het, voordat sy weer die lang vlug terug na Limpopo aangepak het.
Die manlike Bosveldvisvanger het dit ook oor die ewenaar gewaag en vlieg jaarliks tot in Suid-Sudan. Weer eens was sy vlug byna heeltyd reguit noord en het hy vier maande daar deurgebring voordat hy teruggevlieg het na die Tarboton’s se tuin in Kokanje.
ʼn Bosveldvisvanger broeipaar lê elke jaar drie eiers in ʼn nessie wat hulle by ʼn houtkapper gegaps het, of wat reeds in ʼn ou stomp gevestig is. Hulle bou nie self hulle eie nes nie en hou daarvan om jaar-in en jaar-uit terug te keer na presies dieselfde nes toe.
Die eiers neem 18 dae om uit te broei en dit neem die nuwe kuikens drie weke om heeltemal onafhanklik van hul ouers te word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.