Waarom waai as?

LEPHALALE — Mogol Pos het navrae ontvang rondom die ashope by Matimba en Medupi en inwoners van veral Onverwacht kla dat die as op ʼn winderige dag deur die hele dorp waai.

Die vraag is aan Rudi van der Wal, kragstasiebestuurder by Medupi-kragstasie, gevra oor watter voorsorgmaatreëls daar tans getref word om te verseker dat die as nie die hele dorp vol waai nie en of dit steeds natgegooi word om die wegwaaiery te verhoed.

Rudi verduidelik: “As deel van die proses om elektriese krag op te wek word steenkool van Exxaro Grootegeluk Steenkoolmyn as primêre energiebron gebruik en ʼn byproduk van die proses is as. Die volumes steenkool gebruik in die proses is astronomies en die asinhoud is in die omgewing van 30%. Die gevolg daarvan is dat groot hoeveelhede as geproduseer word. “Die as word gestoor op ʼn voorbereide area wat aan streng omgewingsvoorwaardes moet voldoen en om geen of minimale impak op die omgewing te hê wat grond, water en lugbesoedeling betref. Die profiel van die ashoop word gekonstrueer om in te skakel met die omgewing sodra rehabilitasie plaasvind. “Die as word, in die proses waar dit met oorland-vervoerbande tot by die ashoop vervoer word, met water bevogtig.

“Vir die periode waar die as op die ashoop gestoor word voor rehabiltasie plaasvind, word die as verder bevogtig met watersproeiers om lugbesoedeling te voorkom.

“Mobiele masjienerie word aangewend op die ashoop om die as te versprei vir spasie-optimisasie en om die korrekte profiel te skep. Die beweging van die mobiele toerusting, wat somtyds gepaardgaan met sterk windtoestande, lei tot stof wat deur die lug vervoer en sigbaar word in die onmiddellike omgewing van Medupi Kragstasie. Sodra daar situasies is waar baie sterk winde ondervind word, word die mobiele toerusting se bewegings beperk so ver moontlik en die stofbesproeiing vermeerder om die impak te beperk. Dié besproeiing moet optimaal wees om grondbesoedeling te vermy en ook van ʼn gebruikte waterbenuttingsoogpunt af.

Eskom wend van die nuutste tegnologie soos waterverdampers aan in dié verband. Die kragstasie is sewe dae ʼn week, 24 uur per dag vir 365 dae per jaar in produksie wat dit nie altyd moontlik maak om aktiwiteite uit te stel wanneer sterk windtoestande heers nie en dit is ongelukkig nou daardie tyd van die jaar waar daar gereeld windtoestande ervaar word”.

Rhulani Mathebula, hoofbestuurder by Eskom, het gesê daar word steeds stofonderdrukking gedoen en dat hy daaraan sal aandag gee. “Miskien word daar tans nie genoeg gedoen gegewe die winderige toestande wat ons soms ervaar,” het hy gesê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.