“Wat gaan jy doen vir JOU veiligheid?”

LEPHALALE — Sowat 150 gemeenskapslede het Maandagaand 4 Junie by Machauka Lodge bymekaargekom nadat Thys Eloff, voorsittter van die Lephalale Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op kort kennisgewing ʼn byeenkoms versoek het om sekere kwessies rakende veiligheid aan te spreek.

Thys Eloff het die vergadering begin deur almal te bedank vir die moeite wat hulle gedoen het om die vergadering by te woon en dit beskryf as ʼn “vergadering gegewe die trant waarin dinge tans gebeur in sekere areas van Suid-Afrika.”

Eloff het gesê daar was sedert Maart 2017 tot April 2018 589 mense in plaasaanvalle en 92 dood in dié aanvalle (dorpsbewoners uitgesluit) en daar is in die laaste 20 jaar meer as 500 000 mense in SA vermoor. “Dit is van die hoogste syfers in die wêreld en dit is meer as die mense wat in Irak doodgaan en Irak is in ʼn volslae oorlog betrokke.

“As gemeenskap moet ons die vraag vra – wat gaan ons vir onsself doen en is ons bereid om iets vir onsself te doen. Ek is nie hier om die polisie af te kraak nie, ek werk met hulle elke dag, daar is bitter goeie polisiebeamptes daar buite. Daar is baie goeie regeringsamptenare daar buite, maar die sisteme soos dit tans is kan nie die volume misdaad hanteer nie. Dit is ʼn gegewe. ʼn Realiteit. Of ons dit wil weet of nie wil weet nie. Wat gaan ons doen – ek en jy?” het Eloff gevra.

Hy het voorts gesê dat daar reguit gepraat moet word – “as ons nie iets gaan doen nie, gaan ons een vir een doodgaan. Ons sal mekaar een vir een begrawe. Die realiteit is daar is te min werk, te min geld in omloop, die misdadiger kom in baie gevalle weg met dit wat hy doen en dan begin misdaad betaal. Misdaad het vir ʼn groot gedeelte van die mense in Suid-Afrika ʼn werkskepping-situasie geword. Ons het in die laaste drie dae (van 1-3 Junie) nege aanvalle gehad, twee mense is dood en twee is kritiek. Gaan ons kla en kerm of gaan ons ons hand in eie boesem steek en iets daaraan doen?” aldus Eloff.

Hy het gesê dat dit onmoontlik is vir ʼn paar mense om verantwoordelikheid te neem vir die hele dorp se veiligheid. Hy het almal aangemoedig om aan te sluit by ʼn groep soos AGRI of die TLU en gesê dié organisasies en ander stap reeds ʼn lang pad saam met die GPF.

“Hetsy TLU of AGRI, ons kan nie langer oor klein goedjies van mekaar verskil en dan eerder wegstap want ons stem oor 10% nie saam nie, maar ons het 90% gemene deler. Ons gaan dit moet oorkom. Ek het nie al die antwoorde nie maar ons het ʼn krisis,” het Eloff gesê.

Hy het verder gesê die gemeenskap van Lephalale is tot dusver baie gelukkig omdat daar nog nie ʼn ernstige krisis was nie. “As ons ons oë uitvee lyk ons soos Zeerust of Mahikeng”.

“Wat gaan ons doen? Ons kon die brand by die Sadler-gesin se huis gestop het as ons georganiseerd was. Daar was baie mense wat probeer het, maar dit was nie genoeg nie. Die brandweer het boonop laat opgedaag met net twee persone en hulle tenk was nie vol nie”.

Eloff sê hy is al vir nege jaar besig om aan mense te probeer verduidelik dat hoe meer ons vir onsself kan doen en hoe minder afhanklik ons van ander dienste is, hoe beter is die situasie.

“Hoekom het jy ʼn mediese fonds? Hoekom gaan jy nie net na ʼn staatshospitaal toe nie? Ons het geld vir vakansie, vir ons kinders, vir elke ding onder die son, maar ons het nie geld vir ons veiligheid nie. Regtig? Is dit waar ons prioriteite lê? En môre maak ons die koerant oop en vra ‘Vader tog waar stop dit’. Dit is al wat ons daaromtrent doen,” het hy verder gesê.

Hy het gesê die GPF kan net soveel doen, maar hulle kan dit nie doen sonder die gemeenskap se hulp, bystand of ondersteuning nie.

“Ons is almal besig. Die ekonomiese klimaat is van so aard dat die meeste van ons sukkel om kop bo water te hou. Ek sê nie ons moet baklei nie, ek sê ons moet opstaan en doen wat reg is. Raak betrokke by veiligheidstrukture. Daar is mense met geweldige kundigheid in die dorp, baie meer as ek. As jy wil kritiek lewer is jy ook welkom, maar moet dit nie vanuit jou leunstoel doen nie.

“Maak asseblief ʼn bydrae en raak betrokke”.  Hy het gesê die GPF sukkel tans om net die water en ligte en die vier personeellede wat aflos by die dienskamer te betaal. Hy het gesê dat dit vir hom verstommend is dat daar uit die hele dorp so min skenkings is aan ʼn struktuur soos die GPF dienskamer wat 24/7 beskikbaar is.

“Ons kan ook nie elke maand drie of vier mense in die dorp se rûe afry nie. ʼn Klein skenking deur ʼn klomp mense sal almal in die gemeenskap se lewens makliker maak. Kom ons begin om ons, in ons gemeenskap en in ons straat om mense betrokke te kry. Ons het nie ʼn keuse nie. Wat gaan ons doen?” het Eloff afgesluit.

Chris van der Merwe het die stelling gemaak dat daar ʼn tekort is aan struktuur. “Ons moet kyk wat elke individu kan bydra. Jy moet mense hê wat jy kan skakel wat weer mense het wat hulle kan skakel. Die GPF is die enigste organisasie wat by die wetgewing ingeskryf is, ons moet dit in gedagte hou,” het Chris gesê.

Jan du Plessis het gevra waar die probleem lê dat hy byvoorbeeld eers die Sondagaand gehoor het van die brand by Russel en Viola Sadler se huis? “Die Landelike Veiligheidsforum (LVF) is in plek, die strukture is daar, ons moet dit net verfyn,” het hy gesê.

Ignatius Erasmus het gesê daar bestaan ʼn wanpersepsie oor betrokkenheid. “Die probleem lê by die ou wat apaties staan”.

Erasmus het verder gesê dat die probleem volgens sy mening lê by die feit dat daar twee diensverskaffers is vir die noodradio’s en dat dit ʼn skeuring in die gemeenskap en gevolglik oneffektiewe kommunikasie veroorsaak. “Eers wanneer die probleme tussen dié twee individue uitgesorteer en uitgepraat word, sal daar weer samewerking en betrokkendheid in die gemeenskap wees. Ons moet hulle twee om ʼn tafel kry met enkele ander rolspelers saam met hulle en hierdie persoonlike kwessies moet uitgepraat en uitgesorteer word. Die gemeenskap ly daaronder,” het Erasmus afgesluit.

Enigiemand wat graag ʼn bydrae wil lewer tot die voortbestaan van die GPF dienskamer se 24/7 diens, kan Sonette Coetzer by 079 524 0767 of Lynn Dodds by 082 467 2609 skakel.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.