Wat gemaak met rusverstoring?

LEPHALALE — Daar word maand na maand by die vergadering van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gekla oor inwoners wat soms dwarsdeur die nag musiek speel en raas en hulle bure se rus verstoor. ‘n Kuierplek wat reg agter die hof geleë is, na bewering met burger van Nigerië as eienaar, is as voorbeeld genoem van ‘n geval wat by die munisipaliteit verkla is.
Thys Eloff, voorsitter van die GPF, het gesê dat rusverstoring teen die wet is en dat oortreders gestraf kan en moet word.
Volgens ‘n lid van die SAPD wat die vergadering bygewoon het, is hulle nie by magte om iemand te arresteer vir rusverstoring nie, omdat die munisipale regulasies hieroor nie duidelik is nie.
Volgens die Polisie moet daar eers ‘n skriftelike waarskuwing aan die oortreder uitgereik word. Indien die geraas nie stop nie, moet die polisie die toneel weer besoek en as hulle ‘n derde keer na die toneel ontbied word dan mag die musiek gekonfiskeer word en ‘n boete kan uitgereik word.
Ettiene Rossouw, plaaslike prokureur, het meer duidelikheid verskaf.
Wat sê die wet oor rusverstoring?
Rusverstoring is ‘n aksie wat gewoonlik tussen bure geld (residensieël of plase of besighede). Die aangeleentheid geskied by wyse van of ‘n interdik of dagvaarding.
Rossouw se voorts die polisie is veronderstel om klagtes van rusverstoring te ondersoek en ‘n formele klag van rusverstoring moet gelê word.
Is rusverstoring strafbaar met ‘n boete? Sivielregtelik is dit nie strafbaar met ‘n boete nie, want jy wil die geraas gestop hê. Dit is strafregtelik wel strafbaar met ‘n boete.
Volgens Astrid Basson, ‘n raadslid by Lephalale Munisipaliteit, is die munisipaliteit tans besig om die munisipale regulasies betreffende “public nuisance” te hersien, maar dit beteken nie dat daar nie sulke regulasies bestaan nie.
Basson sê die mening bestaan dat die wet van toepassing is op rusverstoring ná 20:00, maar dit is nie so nie. Enige geraas wat steurend is, kan aangegee word en moet ondersoek word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.