Wat is ‘n ma?

Ansu en die liefdes in haar lewe
Ansu en die liefdes in haar lewe

Leoni Kruger
LEPHALALE — Met die oog op Moedersdag Sondag 8 Mei, het Mogol Pos drie ma’s gevra om te verduidelik wat ma-wees vir hulle beteken en hoe dit hulle lewens verander het.
Maja Oosthuizen sê dat om ‘n ma te wees en ‘n seuntjie se alles te wees, meer is as wat sy ooit kon vra.
 Die eerste drie maande was maar rof, mens kom nie regtig by enigiets anders uit nie. Vandag is hy vier en ‘n half jaar oud en ek besef elke dag dat ons as ouers, met genade van Bo, verantwoordelik is vir ons kinders se toekoms. Dis nie altyd lekker om dissipline af te dwing nie, maar ‘n vriendin het eenkeer vir my gesê “ek weier om eendag skaam te kry vir my kinders.” Vandag voel ek ook so.
 Hy is my alles en ek het hom oneindig lief. Sy soene is lekkerder as sjokolade en ek kan my nie ‘n lewe sonder hom indink nie. Dis die lekkerste lekker om sy gelukkige gesiggie te sien en te hoor hoe lief hy my het.
 My doel op aarde is om van hom ‘n geliefde volwassene te maak. Ek wil hom leer om respek te hê vir ander mense. Om die minste te wees, maar nie toe te laat dat ander mense op hom trap nie. Ek wil hom leer dat geld en aardse dinge nie ‘n verskil maak aan wie jy is nie. Om sy vertroue altyd in God te stel. Om te weet dat jy bo uitkom as jy hard werk en jouself nooit die keuse gee om op te gee nie….
 Ja, want al hierdie dinge is wat Mamma-wees my geleer het.
Ansu Leahy sê as mense haar aan ander voorstel sê hulle baie keer direk daarna “sy het vier kinders”. So amper asof dit ‘n aansteeklike siekte is.
 Ek wonder altyd of hul dit sê om enige van my gedrag wat daarna volg te regverdig? Of is dit om te verskoon dat ek lyk soos ek lyk of is soos ek is?
 Soms bespeur ek ‘n tikkie bewondering… asof hulle wil sê “kan jy dit glo … en sy leef nog?”
 Die waarheid is…. ek is mal daaroor om ‘n groot gesin te hê… en ek sou dit glad nie kon doen sonder ‘n man wat baie meer as sy deel doen nie!
 Daar bestaan nie iets soos myne en joune in ons gesin nie. Dit is net “ons s’n”. Jare van swanger wees, sooibrand en pajamadril. Saam wees met doeke, winde, koors en opgooi. Wagkamers, hospitale en steke. Speelparke en swaaie. Ure in die kar. Sand eet op strande. Nuwe fietse en bloed-knieë. Vergeetagtige, suinige tandemuise. Kersvaders wat dieselfde papier as mamma gebruik. Eerste skooldag.
 Gelukkig is daar net soveel vreugde as trane. BAIE lag. Moederskap is ‘n vreemde, onbeskryflike ding. Party dae wonder mens wat op aarde het jou besiel? Ander dae besef jy dat jou menswees en julle saamwees vervolmaak word in ‘n Goddelike verantwoordelikheid.
 Ansu sê sy is daagliks stom oor die kapasiteit van ‘n ma. Kinders se persoonlikhede verskil van mekaar soos water en vuur. Soet en sout. Dag en nag. Dis wat God doen – Hy skep verskeidenheid.
 ‘n Ma verstaan dat elkeen van haar kinders lewensreg het. Elkeen MAG wees net soos hy is. Ongelukkig neem dit redelik lank voordat kinders besef dieselfde geld vir Ma.
 Kinders is ook soms heeltemal te eerlik en reguit. Ek het eenkeer in die bad gesit toe een van my dogters my lyf met fassinasie bekyk en vra: “Mommy, why do you have two bellies?” Veertien jaar later sê my seuntjie baie liefdevol: “Mamma se maag is so lekker ‘squidgy’ en vet en sag.” Onskuldige verbale aanvalle op elke deel van my lyf is nou al ou nuus. Ek kleef maar vas aan die soete herinneringe van my plat magie, in my spataar- en rekmerklose jeug.
 Die besef waartoe ‘n ma telkens kom is dat dit aanvaarbaar is om nie altyd ‘n “cool” ma te wees nie. Dis okay as jy met jou kinders raas en streng is. Om foute te maak en nie altyd te weet wat die antwoord is nie, is okay. Om soms te voel asof jy net-net oorleef, nooit weer tyd gaan hê vir jouself nie en om jou man en jou lewe vóór kinders party dae te mis – is alles okay.
 Ek kyk ook soms na my kinders en dink – waaaaaar kom julle vandaan? Hoe het ons HIER gekom? Genade. Die antwoord is elke keer weer… Genade.
 Rina van Schalkwyk sê: twee volmaakte pienk bondeltjies liefde is uit ‘n liefdevolle Vaderhand aan my geskenk. Al is hulle lankal nie meer klein nie, klou hulle steeds vas aan my soos die kougom wat ek telkemale uit kleuterhaartjies moes sny of soos die soet reuk van die parfuum wat ek mooi toegedraai met ‘n briefie van elkeen van hulle gekry het. Hulle menswees kan nooit uit my hart uitgevee word nie.
 Van die eerste dag wat hulle in my lewe gekom het het ek alles in ‘n ander lig gesien, ek het deur hulle donker ogies begin kyk. Hulle het die wêreld om hulle met soveel verwondering dopgehou. Hulle het my geleer wat dit is om die klein in die groot raak te sien, onvoorwaardelik lief te hê, dankbaar te wees, te glo, te volhard en nooit, ooit op te gee nie. Van hulle geboorte af was daar op hierdie aarde niks wat ooit weer my hart en menswees aangeraak het soos hulle nie.
 Ek sal hulle vir altyd lief hê. Jou liefde vir jou kinders is wie jy is. As jou kind seer het, pyn jy in die oortreffende trap. As jou kind bly is, verander jy in ‘n sorgelose wese wat glimlag vir elke vreemdeling wat jy teëkom en sing asof daar ‘n paar Ghoema’s in jou voorportaal pronk.
 Ek is dankbaar dat ek ouerskap kan deel met my beste vriend. Niks het my ooit voorberei vir ma-wees nie en ek was so bang. Sy skouers was altyd my vesting, want om te déél maak alles makliker, beter. Deel maak ook vreugdes groter, hartseer draagliker. Saam bid maak ons sterk, oorwinnaars.
 Ek is bevoorreg om daar te kan wees vir my kinders – in alles wat hulle aanpak, in alles waarin hulle sukses behaal of faal. Agter hulle is hierdie meestal oorywerige mamma, gereed met applous. En seker soms vir hulle ’n bietjie van verleentheid met die oordadigheid.
 Ma-wees het my leer bid, baie bid en opreg bid. Ek is bly as hulle oor my drumpel trap. Ek hoor my ma se lag in my dogters se stemme. Ek gaan soek my pa ook telkemaal in die hemel op en vertel hom hoe trots ek op hulle is.
 Ek het nie geweet dat ’n mens tot soveel liefde in staat is nie. God was my genadig – ek kon hulle grootmaak in oorvloed.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.