Wat moet mens nóg doen om inbrekers uit te hou?

LEPHALALE — Verdagtes het Donderdagaand 1 Oktober vir die soveelste keer probeer om by ʼn besigheid in Lephalale in te breek en is weer eens met leë hande daar weg.

Volgens Francois Roets, eienaar van Monster Sekuriteit, het hulle Donderdagaand omstreeks 22:07 ʼn sein in die beheerkamer ontvang dat daar aan die elektriese heining by dié besigheid gepeuter word.

ʼn Reaksievoertuig is na die toneel gestuur en die eienaar van die besigheid is in kennis gestel. Twee gate in die heining het bevestig dat die verdagtes daardeur toegang tot die perseel gekry het. Die sekuriteitskameras het egter geen vreemde bewegings uitgewys nie.

Volgens Roets het die eienaar van hierdie spesifieke besigheid al duisende rande spandeer om die veiligheid by sy besigheid te verbeter, maar daar is gereeld pogings tot inbraak. “Mens weet nie wat kan jy nóg doen om veilig te wees nie.”

Roets het ook bevestig dat inbrake in die Lephalale-omgewing toeneem.

Die Polisiewoordvoerder in Lephalale was nie beskikbaar vir kommentaar nie, aangesien hy met verlof is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.