Wat skuil in die handreinigers?

Inwoners het Mogol Pos gevra om ondersoek in te stel na die handreinigerbedryf.

Sommige inwoners kla dat die ontsmetmiddels wat by winkels en besighede aan hulle gespuit word newe-effekte soos jeukerigheid, ekseem en skurfheid veroorsaak. Daar word ook gekla dat sommige van hierdie reinigers hulle hande taai en klouerig maak.

Vrae word gevra soos is daar wetenskaplike standaarde gestel waaraan die reinigers moet voldoen sodat allergiese reaksies byvoorbeeld voorkom kan word?

Sover vasgestel kon word, is die enigste vereiste waaraan voldoen moet word, dat so ʼn middel ʼn 70% alkoholbasis (etanol) moet bevat.

Mogol Pos het verneem van ʼn geval waar handreiniger in ʼn kind se oë beland het en oogskade opgedoen is. Hierdie middels mag nie met oë in aanraking kom nie. Handreinigers moet met uiterse sorg hanteer word en as dit op hande gespuit word móét klante aangesê word om hul hande te vryf totdat die middel verdamp het.

Nog ʼn waarskuwing wat op betroubare reinigers se etikette voorkom is dat die middel skadelik is as dit mondelings ingeneem word.

Maak dus seker dat handontsmetmiddels slegs by betroubare handelaars gekoop word en lees die etikette. Vertrou slegs produkte wat gemaak is deur bekende handelsmerke in die bedryf. In die farmaseutiese en skoonmaakmiddelbedryf word produkte meganies in fabrieke gemeng. Bly dus maar ver weg van goedkoop produkte wat in iemand se motorhuis gemeng en gebottel is.

Totdat die pandemie uitgewoed is, sal ons bly wonder oor wat in daardie handreinigers by winkels is en met watter aptekersmaat die vloeistowwe gemeet is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.