Wat van die tonne as?

LEPHALALE — Die as-probleem by Medupi Kragstasie is nog ver van opgelos. Siende dat Medupi nog glad nie in volle produksie is nie, is die impak van die onbeheerde steenkool-as nog nie naasteby so groot soos wat dit moontlik kan wees nie.

Nadat baie navrae vanuit die gemeenskap ontvang is, het Mogol Pos weer gesels met Rudi van der Wal, Kragstasiebestuurder: Opwekking. Hy het die volgende vrae beantwoord:

Mogol Pos: As een eenheid 200 ton se as per dag gee en as daar vyf eenhede werk is dit ‘n 1 000 ton as per week. Is dit so?

Rudi van der Wal: Teen volle produksie is dit 2 900 ton as/stof oor 24 uur per eenheid en 101 500 ton per week vir vyf eenhede teen volle produksie.

Mogol Pos: Die ontwerpfoute gaan R8-11 biljoen kos om reg te maak en die as-probleem is die grootste probleem?

Rudi van der Wal: Ja dit is die beraamde kostes op die stadium en dit sluit verskeie dele van die aanleg in insluitend die as/stof aanleg.

Mogol Pos: Die as wat oral by die kragstasie ingaan – kan dit die tubines en eenhede laat “trip”?

Rudi van der Wal: Die meeste van die aanleg is ontwerp om bestand te wees teen die penetrasie van water en as/stof, maar as/stof wat wel penetreer is genadeloos teenoor elektroniese komponente en affekteer die betroubaarheid.

Mogol Pos: Die normale skoonmaakkontrak sluit agt skoonmakers in, maar daar is tans 400 mense en 13 “suigpompe” wat die as probeer opsuig? Is dit waar?

Rudi van der Wal: Daar is gemiddeld sowat 60 skoonmakers in diens by ʼn kragstasie vir normale skoonmaakaktiwiteite. Medupi het tans addisionele skoonmakers (30 skoonmakers), asook toerusting in diens as gevolg van die hoër as/stofvlakke.

Mogol Pos: Die FGD (Flue Gas Desulphurisation) aanleg behoort eers binne die volgende sewe jaar in werking te wees en dit sal blykbaar ʼn merkbare verskil maak?

Rudi van der Wal: Ja, die rookgasontswaweling (FGD) se funksie is om die ongewenste gasse, veral swaeldioksied (SO2), te verwyder en die tegnologie is baie suksesvol.

Mogol Pos: Wat beteken Nersa se aankondiging oor die verhoging van elektrisiteitstariewe vir julle?

Rudi van der Wal: Dit word verwelkom deur Eskom alhoewel die aankondiging nie in lyn is met wat Eskom aangevra het nie en dit ongelukkig ʼn tekort van R102 biljoen aan inkomste te weeg gaan bring. Eskom bestudeer tans die aankondiging en sal besluit hoe om daarop te reageer.

In ʼn artikel op National Geographic se webtuiste gepubliseer op 19 Februarie 2019 word skrikwekkende statistieke verskaf oor die nagevolge van die Tennessee Valley Authority (TVA) kragstasie naby Kingston, Tennessee. National Geographic berig die TVA Kingston Fossielaanleg is in 1955 gebou en dit was vir meer as ʼn dekade lank die grootste steenkool-kragstasie in die wêreld. Dit verbrand steeds 14 000 ton fyngemaakte steenkool elke dag. Omtrent 10% van dié steenkool – die nie-brandbare deel, word steenkoolas. Poeieragtige as wat versamel in rookstopfilters en growwe as wat uit die aanleg se oonde kom. Die as is ’n mengsel van klei, kwarts en ander minerale, deur die hitte gesmee in klein glasagtige “krale” deur die hitte van die vuur en ketelslag wat uit die aanleg se oonde spoel.

Daar word berig dat baie van die mense wat op dié kragstasie gewerk het dood is as gevolg van brein- en longkanker, leukemie en ander siektes.

Terwyl die wêreld fokus op steenkool se koolstofdioksiedemissies, wat ’n toonaangewende drywer van klimaatsverandering is, wys die Kingston-storting en die nasleep daarvan ’n veel meer onmiddellike probleem: Wat om te doen met die miljoene ton steenkoolas?

Dieselfde kan gevra word rakende die tonne steenkoolas van Medupi wat in die lug vrygestel word. Waar gaan dit eindig en wanneer en indien wel, wat gaan die langtermyngevolge op die inwoners wees?

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.