Wat van ons water?

IMG_2693
Die Mogolrivier moet beskerm en bestuur word sodat die rivier in stand kan bly

Leoni Kruger
LEPHALALE — Watter uitwerking het die droogte en lae reënval op die Mogolrivier? Hoe gaan dit die grondeienaars raak wat uit die Mogolrivier besproei? Wat gaan daar gedoen word omtrent die riool wat in die Mogolrivier vloei?
Mogol Pos het bogenoemde vrae bespreek met Francois van den Berg, voorsitter van die Watergebruikersvereniging (WGV) in Limpopo. “Die WGV se taak is om die Mogolrivier te beskerm en die bestuur van die rivier op so ‘n manier te behartig dat die rivier in stand bly. Ons moet die water beskerm en seker maak dat die water regverdig verdeel word deur almal wat daarvan mag gebruik” verduidelik Van den Berg.
Hy sê verder dat die grondeienaars vanjaar nie voor 1 Julie kon begin plant nie en hulle is slegs geregtig op die helfte van hulle gewone kwota rivierwater.
‘n Geografiese inligtingstelsel meet die biomassa op die grond wat bepaal hoeveel hektaar geplant kan word. Volgens Van den Berg kan iemand se naam by die rekenaar ingesleutel word en so kan bepaal word hoeveel grond onder besproeiing is, presies waar die grond is en hoeveel waterregte die persoon het – die proses is egter nog nie finaal afgehandel nie.
“Ons moes verifieer dat die inligting op ons stelsel ooreenkom met dié van die aktekantoor” sê hy.
Verlede jaar se inligting van die GIS (Geografiese Inligtingstelsel) word dus nou met vanjaar se inligting vergelyk en dit word in Junie- en weer in Desembermaand gemeet.
Van den Berg sê daar is vanjaar baie meer spilpunte as verlede jaar – daar is tans sowat 2 600 hektaar grond onder besproeiing. Die WGV is tans ook besig om ‘n waterbestuursplan vir die hele rivier te skryf sodat daar beplan kan word hoe die rivier bestuur gaan word in die tyd wat kom. Hy sê daar gaan ook voortaan watermeters by al die verbruikers geïnstalleer word en daar sal ook gekyk moet word na die hantering van die ekologie van die rivier.
En die riool in die rivier?
Van den Berg is self moedeloos oor die riool wat in die rivier loop en die feit dat die Munisipaliteit skouers optrek daaroor. Hy sê hy het by herhaling met die Munisipaliteit daaroor gepraat. “Dit is ook met die Departement van Waterwese opgeneem en sekere punte is gemonitor. Ons het ook met Afriforum gepraat”, sê hy.
Van den Berg sê hulle sit intussen druk op die Departement van Waterwese sodat hulle ‘n direktief (beleidsverklaring) hieroor kan uitreik. “Die foto’s is reeds aan die Department gestuur” sê hy.
Wie is geregtig op die gebruik van die rivierwater en hoeveel?
Van den Berg sê ten spyte van vele versoeke is daar steeds mense wat van die rivier gebruik maak wat hulself bevoordeel, finansiële gewin daaruit kry en die rivier uit die aard van die saak so belemmer dat dit feitlik onherstelbaar is. Daar is boere wat hulle geensins aan enige wet of regulasie steur nie en alhoewel diegene in die minderheid is, is die Department van Waterwese wel besig om die saak te ondersoek.
Damvlakke
Die Mokolodamvlak is tans 74% – dit is baie laer as die vorige seisoen. “Ons het 3 miljoen m³ water by Exxaro gekry en die Departement moes daarvoor betaal. 3 miljoen m³ water is losgelaat om die rivierbedding nat te hou en ongeveer ‘n maand gelede is die sluise oopgemaak en nog 6 miljoen m³ is losgelaat sê Van den Berg. Hy sê die probleem is egter dat met die sandgrawery van oewerboere het die “losgelate” water nie die gewensde uitwerking gehad nie, omdat die gate die watervloei op plekke blokkeer het.
Die Wolmunster balanseerdam het met 700 mm gedaal en die Windhoek balanseerdam het met 500 mm gedaal en dit is onrusbarend dat die water wat uit die damme gebruik word vier keer meer is as die kapasiteit van die twee damme saam.
As die dam dus vol is, kan net ‘n kwart van die hoeveelheid besproei word as wat gewoonlik die geval was” sê Van den Berg.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.