Waterkloofrif loop deur

Die stopverf van dié venster van ‘n huis in Waterkloofrif is uitgekrap en die venster uitgehaal om toegang tot die huis te kry

Leoni Kruger
LEPHALALE — Twee huise in Waterkloofrif-sekuriteitskompleks in Barendstraat in Lephalale is onderskeidelik vroeg Vrydagoggend 14 April en Sondagoggend 16 April beroof.
Die verdagtes betrokke by die eerste rooftog het Vrydagoggend tussen 03:00 en 04:00 toegang tot die huis verkry deur die agterdeur oop te breek. Daar was nie ‘n veiligheidshek voor die deur nie.
Volgens Thys Eloff, voorsitter van die GPF in Lephalale, het die verdagtes van die veld se kant af ingekom en die elektriese omheining se drade ontkoppel, dit geïsoleer en opgelig en so toegang tot die sekuriteitskompleks gekry.
Eloff sê by dié huis is die kaste gestroop van kos en baie vleis is uit die vrieskas gesteel. Hulle het verder elektroniese toerusting gesteel en verskeie bottels drank geniet tydens hul strooptog. Eloff sê dit lyk of hulle op dieselfde manier uit die kompleks is as wat hulle ingekom het.
Vroeg Sondagoggend 16 April was die huis net langsaan ook beroof. Hulle het op dieselfde manier ingang tot die kompleks verkry, maar dié keer is stopverf by een van die vensters uitgehaal en die venster verwyder om toegang te kry. Eloff sê hulle het nie eintlik weer kos gesteel nie, maar wel elektroniese ware. Daar was nie diefwering voor die venster nie.
Volgens Eloff is Waterkloofrif naby aan sy eie woonplek en ondanks die feit dat die inwoners van die tweede huis vyf honde het, was dit doodstil in die buurt. Ander bure het ook bevestig dat hulle niks vreemd gehoor het of honde uitermatig hoor blaf het nie.
Eloff sê dit is onseker of die alarmstelsel wat gekoppel is aan die elektriese heining wel dié aand aangeskakel was.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.