Waterraad oor watergebruik

LEPHALALE / VAALWATER / ALMA — Lede van die Mokolo Waterraad het Woensdag 30 Maart bymekaar gekom om die wettigheid van waterverbruik in die omgewing te bespreek.
“Ons is baie bly dat meer as 30 waterverbruikers hierdie vergadering bygewoon en aktief aan die besprekings deelgeneem het,” het Ian van der Merwe, voorsitter van die Waterverbruikers-vereniging in Vaalwater gesê.
Francois van den Berg, voorsitter van die Mogol Waterverbruikersvereniging in Lepalale, het boere toegespreek oor die hantering van waterverbruik en die betaling daarvan in Vaalwater en Alma.
Francois Joubert, ʼn raadgewende wateringenieur het daarna ʼn oop bespreking oor die wettigheid van watergebruik in die omgewing gehou.
“Alle bestaande wettige watergebruik moes reeds in die periode tussen 1996 en 1999 geregistreer geword het,” het Joubert verduidelik.
“In 2001 is plaaseienaars gevra om alle watergebruik te registreer en ʼn waterregistrasie-sertifikaat is daarna aan plaaseienaars uitgereik. Ongelukkig het registrasie van watergebruik nie ʼn reg gevestig nie en die sertifikaat beteken niks nie,” het Joubert verduidelik.
“’n Bevestiging van ʼn bestaande waterreg sal ook in volume verskaf word en indien boere ʼn waterreg-sertifikaat het wat waterverbruik in hektaar uitdruk, is dit foutief. Waterverbruikers moet ook besef dat indien hulle op plase bly waar daar tussen 1996 en 1999 geen waterverbruik was nie, het alle aanspraak op water verval – ongeag of die titelakte van die plaas ʼn waterreg of waterservituut op het,” het Joubert verduidelik.
Indien enige waterverbruiker in die Mokolorivier se opvangsgebied (dit sluit alle sy-takke van die Mokolorivier in), water wil opgaar in die vorm van ʼn dam of ʼn keerwal, moet daar aansoek gedoen word vir ʼn lisensie en ʼn volledige omgewingsimpakstudie moet gedoen word. Opgaar in die omgewing word streng beheer en ʼn impakstudie of aansoek om ʼn lisensie sal nie noodwendig goedgekeur word nie. Die kostes rondom so ʼn aansoek sal ʼn aansoeker min of meer R150 000 uit die sak jaag.
Plaaseienaars moet kennis neem dat, indien hulle self enige uitheemse plante wat die vloei of opgaar van die water verhinder het verwyder of uitroei, hulle aansoek kan doen om verhoogde waterverbruik.
“Indien plaaseienaars dink dat ʼn boorgat hul vrywaar van enige lisensies of aansoeke is hulle ook verkeerd. Die oppervlak van ʼn plaas word gebruik om die watergebruik uit ʼn boorgat te bepaal en plaaseienaars mag slegs pomp vir die hoeveelheid reënwater wat op die plaas val,” het Joubert gesê.
“Rivierwater mag gekanaliseer word na verskillende damme op dieselfde plaas, maar daar moet aansoek gedoen word om ʼn lisensie voordat dit mag gebeur. Damme mag ook nie in die droë seisoen geskrop word sonder ʼn aansoek en toestemming van die plaaslike waterraad en Departement van Water nie. Buitedamme val onder dieselfde reëls as enige gewone damme in ʼn rivier en is onderhewig aan dieselfde lisensiëringsproses,” sê Joubert.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.