Waterverbruikers eie kantoor

Waterverbruikers-eie-kantoor-Marietjie-Marx
Marietjie Marx sit gereed agter haar nuwe lessenaar by die Mogol Waterverbruikersvereniging, sub-sektor Alma en Vaalwater se kantoor

VAALWATER/ALMA — Waterverbruikers in die Vaalwater- en Alma areas sien reeds jare daarna uit om hulle eie kantoor te hê en dié dag het uiteindelik aangebreek. 
Die Mogol Waterverbruikersvereniging, subsektor Vaalwater en Alma het nou hulle eie kantoor.
Die kantoor is geleë by die 243 Sandrivier Sakesentrum in Vaalwater en sal Maandae tot Vrydae vanaf 7:30 tot 12:30 oop wees.
Die administrasiebeampte vir die vereniging, Marietjie Marx, woon reeds agt jaar in Alma en nooi veral die Almaboere uit om hulle inligting by haar te gaan registreer.
Die kantoor sal alle korrespondensie tussen waterverbruikers en die regering hanteer en hulle kan ook behulpsaam wees met die uitsorteer van waterrekeningprobleme. Waterverbruikers kan ook nuwe aansoeke vir waterverbruik daar gaan registreer en enige ander algemene administratiewe sake rondom waterverbruik in Vaalwater of Alma kan daar hanteer word.
“Ons wil alle verbruikers baie vriendelik uitnooi om die nuwe kantoor te kom besoek en seker te maak dat al hulle bestaande inligting rakende hul waterverbruik korrek en op datum is,” sê Charles Newton, een van die bestuurslede van die Vereniging.
“Dit het baie jare se onderhandelings geneem voordat die kantoor se deur kon open en grondeienaars moet asseblief nou van die geleentheid gebruik maak. Onthou ook dat die kantoor u kan bystaan in enige bemiddeling tussen die waterverbruiker en die regering,” het Newton verder gesê.
Lesers kan gerus ʼn e-pos stuur aan vlw.wua@gmail.com vir enige navrae rakende die Waterverbruikersvereniging of hul dienste.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.