Wat’s nuus by Medupi?

Johan Prinsloo
Johan Prinsloo

Leoni Kruger
LEPHALALE — Waarom moet die inwoners van Lephalale opgewonde wees oor Medupi en die ontwikkeling (en ontwrigting) wat daarmee saamgaan? Dit is van die vrae wat die koerant menigmaal moet antwoord.
Baie mense is van mening dat die ontwikkeling in die dorp net chaos gebring het. Die dorp se infrastruktuur maak eenvoudig nie voorsiening vir al die mense wat hier moet woon en werk nie.
Eiendomsagente en ontwikkelaars lag al die pad. Baie mense is dankbaar oor die winkels wat hier kom nesskop het. Van die ouer inwoners sê die Bosveld is vernietig deur ontwikkeling. Die moontlikheid van nog myne en wateraanlegte wat verdere ontwikkeling sal bring, laat die mense wat die Bosveld lief het, met weemoed en hartseer praat van die dae voor Medupi en kontrakteurs.
Mogol Pos het vir Johan Prinsloo, kragstasiebestuurder van Medupi en Kusile, gevra hoe die projek vorder en wat is daar om oor opgewonde te wees.
Johan sê in die eerste plek het Eskom baie goed gedoen in die kragontwikkeling-afdeling en hy sê die werknemers op die Medupi-projek is baie toegewyde en lojale mense.
“Een van die eerste positiewe dinge is die feit dat daar vir 12 maande geen beurtkrag was nie, omdat Eenheid 6 reeds ‘n reuse verskil aan die stabiliteit van die netwerk maak. Ons is op ‘n goeie plek met die projek.
As Medupi aan die netwerk gekoppel is, stel dit twee ander kragstasies in staat om instandhouding te doen sonder dat dit die land se krag gaan beïnvloed. En dit is juis wat in die verlede een van die probleme was – daar kon nooit genoeg instandhouding gedoen word nie” sê Johan.
Hy sê die beskikbaarheid van die kragontwikkelingdivisie het gestyg met 6%. (Sowat 1800 Mw)
Dan is daar natuurlik die voordeel van plaaslike indiensneming. Volgens Johan is 90% van die Operasionele werkers op die Medupi-aanleg plaaslike mense wat nog nooit gewerk het nie. Medupi het aan hulle die geleentheid gegee om opgelei te word en werk te hê.
Eenheid 5, die volgende eenheid wat kommersieel sal gaan, is goed aan die gang. Volgens beplanning word die deurblaas van stoom in alle hoëdrukpype binne enkele dae gedoen, waarna die elektriese toetse sal volg en dan die koppeling aan die nasionale netwerk. Johan sê dit gaan eintlik so goed dat Eenheid 5 teen Februarie 2017 kommersieël sal gaan. Die vooruitgeskatte datum was eers in 2018, so die projek vorder beter as wat verwag is.
“Medupi gaan klaar wees teen 2019 en dan het ons ‘n 6 x 800Mw-masjien wat uiteraard ekonomiese groei gaan stimuleer. Jan Alleman besef nie met watter ongelooflike projek ons hier besig is en watter verskil dit aan elektrisiteitsverskaffing gaan maak nie” sê hy.
Die moontlikheid van ‘n hele nuwe industrie in Suid-Afrika deur gebruik te maak van afvalgips is nie uitgesluit nie. Die proses om gips te kry word gedoen deur die uitlaatgas swael te onttrek met die sproei van watergemengde kalksteen. Dan verander die afval deur middel van ‘n chemiese proses in gips. Johan sê hy kon nog nooit verstaan waarom Suid-Afrikaners nie hul huise se binnemure huise van stene bou nie. Die gebruik van gipsbord vir onder andere die bou van huise en gips vir die maak van paaie kan ‘n hele nuwe mark begin. Volgens hom gaan dié proses by Kusile begin en later oorspoel na Medupi.
In terme van koopkrag moet die gemeenskap anders begin dink, sê hy. “Die sakekamer moet anders begin dink. Dink daaraan hoe ‘n mens ‘n industriële middelpunt (hub) hier kan begin. Daar is soveel moontlikhede” sê Johan.
Een van die projekte waarmee van die jong ingenieurs reeds begin het, is om in hulle vrye tyd betrokke te raak by skole en studente.
As mens nou al die voor- en nadele oopweeg is daar na alles niks wat by Eskom se elektrisiteit kom nie. En Medupi gaan daartoe bydra dat daar altyd lig is met die druk van ‘n knoppie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.