Watter grondpad kies jy?

LEPHALALE — ’n Onlangse artikel in die Weg Ry & Sleep-tydskrif is getiteld “Grondpaaie is lekker. Watter een kies jy”?

Grondpaaie kan lekker wees ja. Jammer dat grondpaaie toenemend ’n slegte smaak in jou mond (en stukkende voertuie) tot gevolg het.

Grondpaaie klink idillies. Jy sien dele van die land wat jy nie op ’n teerpad sal sien nie.

Ons het vir ons wittebrood jare gelede gekies om met grondpaaie na Rhodes te ry.

Grondpaaie was lekker paaie. Nie meer nie. Grondpaaie is ’n nagmerrie.

Ek gaan soek vir inligting op internet om te probeer vasstel of daar regulasies is betreffende die skraap van grondpaaie.

Ek vind die volgende: “Die skraap van grondpaaie maak die paaie meer gelyk. Dit veroorsaak egter stof, daarom moet grondpaaie omtrent elke vier tot vyf weke geskraap word”.

Elke vier of vyf weke?
Ek weet dit is waarskynlik ’n “tall order” om te verwag dat die paaie elke maand geskraap word, maar een keer elke 12 maande is darem bietjie dik vir ’n daalder.

Soos met alles in die wêreld is goeie onderhoudswerk altyd meer koste-effektief as om op die einde die hele werk oor te doen. Dink maar aan die Beauty-pad wat ’n paar jaar gelede heeltemal oorgedoen moes word weens ’n gebrek aan instandhoudingswerk.

In die Weg Ry & Sleep van 18 Desember 2018 word daar wenke verskaf oor hoe om op ’n grondpad te ry. Indrukwekkend, maar wat daarvan as jou grondpad so vol slote en gate en sinkplaat is dat jy eintlik glad nie kan ry nie?

Ek gesels met Deidre Meyer, mede-eienaar van ’n naweekwegbreekplek teen die Palalarivier. Sy sê die swak paaie het ’n direkte invloed op hulle inkomste. Niemand sien kans om die grondpad te ry nie. Dit het haar onlangs meer as R10 000 gekos vir herstelwerk aan haar kar – as gevolg van die slegte pad.

My soektog na ’n personeellid van die Departement van Openbare Werke, wat verantwoordelik is vir die skraap van die grondpaaie, was na ’n week van oproepe, besoeke en nogmaals oproepe, suksesvol. 

Volgens hom is daar tans net een padskraper wat werk en die departement moet voorkeur gee aan die dele waar die paaie baie verspoel het, soos Soutpan tans.

Die Visgat- en Beautypad moes reeds in November geskraap gewees het, maar volgens die amptenaar was dit dieselfde tyd toe President Ramaphosa Limpopo besoek het. Natuurlik was dit prioriteit om die paaie waar die president sou ry in ’n goeie toestand te kry.

Prof Don Ross en Mathew Townsend het in Februarie 2019 ’n voorlegging gedoen by die SA Transport Conference in Kaapstad en die volgende gesê:
“How long does a gravel road last?
With proper care and maintenance, a gravel driveway can last up to 100 years. The beauty of gravel is that is can be repaired and replenished on an ongoing basis. By contrast, wear and damage to asphalt and concrete driveways it difficult to remedy, and replacement is often more cost-effective than extensive repairs”.

Mens weet nie of jy moet lag of huil nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.