Watwou vlakvark? Hy is Org!

LEPHALALE — Hoe gebeur dit dat mens ʼn vlakvark as deel van jou troeteldiere grootmaak? Org is immers deel van die Tempelgesin en hy het sy regmatige plek voor die TV. Miskien dink Org hy is ʼn hond nes al die ander?

Groot vriende knus voor die TV

Mogol Pos het met Erika Tempel gepraat oor hulle mak vlakvark, Org, en hoe dit gebeur het dat hulle hom as hulle eie aangeneem en grootgemaak het.

Sy vertel: “ʼn Veearts het Org en ʼn sussie op die Stockpoortpad gekry, hulle mamma was doodgery. Die tweetjies het nog geel donsies op hulle lyfies gehad, wat beteken het dat hulle nog nie gereed was om uit die den te kom nie”.

Die veearts het dié twee wesies in November 2002 vir Erika gevat. Hulle was op daardie stadium sowat een week oud.

Erika sê die melkmengsel was aanvanklik ʼn groot uitdaging asook die gaatjies en die tietgrootte. Org se sussie was baie klein en swak en hulle kon haar nie red nie.

“Org het van kleintyd af lang ente in die veld saam met ons en die honde gaan stap. Dit was vir ons belangrik dat hy vry moes voel, meer leer van die veld en weet waar die huis is. Ons het vir hom ʼn dammetjie voor die huis gebou waar hy in die modder kon speel,” sê sy.

Sy gunsteling kos is lusern, mielies en natuurlik die honde se kos, maar sy groot bederf is rosyntjies, sjokolade en koekies.

“Toe Org puberteit bereik het, het hy dikwels saans begin uitslaap. Dit was baie erg, want mens wonder altyd of hy veilig is. Ek het wakker gelê en gewonder of ʼn luiperd hom sal vang. Ek was soos die ma van ʼn tiener wat haar oor haar kinders bekommer. Toe hy begin meisies huis toe bring, ek het fout gevind met hulle almal – nie een was mooi genoeg nie. Sy meisie was altyd verstom as hy by die huis instap en het dan vir ʼn rukkie verdwaas by die deur bly staan en dan weggedraf. Hy het nuwe geluidjies vir haar gemaak en ek het bevoorreg gevoel om dit met hom te kon deel. Soms het hy net vinnig kom eet, in die winter wanneer kos skaars was, en dan weer dadelik gaan kuier by die meisies”.

Erika sê hulle vermoed dat hy baie jare gelede deur ʼn slang in die ook gespoeg is aangesien sy een oog ʼn jaar of wat gelede wit geword het.

“Org kommunikeer deur middel van sagte, amper kermgeluidjies, as hy iets wil hê of nie van iets hou nie. Ons verstaan dit. Hy druk gewoonlik sy snoet op die grond vas as hy oor iets wonder, of wag dat ons iets vir hom moet bring. Org was nog nooit aggressief teenoor enige van ons gesinslede of mense wat daar werk of kom kuier nie. Mense skrik hul gewoonlik boeglam as hulle Org in die huis sien. Hy steur hom gewoonlik nie aan vreemdelinge nie, maar hy bly ʼn wilde dier en ek laat nooit toe dat mense aan hom probeer vat of vryf nie.

“Ek dink die feit dat ons sy magie baie vryf en sy kloutjies sny (waarvan hy niks hou nie) maak dat hy regtig hondmak is. Hy het geweet dat hy veilig is en mense kon vertrou. Hy het ons een boerboel, Gary, uitgekies om sy kombers mee te deel.

Hy het op twee geleenthede in die middel van die nag huis toe gekom en dan die buitedeur in flarde gebreek om toegang te kry! Die honde het nie geblaf nie, want hulle het geweet dis hy.

Org het vir baie jare elke aand op ʼn bank voor die TV geslaap tot ongeveer ʼn jaar gelede. Hy is nou kruppel van artritis en probeer nie meer om by my op die bank te klim nie. Hy het nog nooit in die huis gemors nie, behalwe om met sy skurwe modderlyfie in te kom. Hy het ʼn spesiale kombers of twee wat ons oopgooi vir sulke tye. Sy 16-jarige lyf voel ook nou die ‘oumensgeite’.

Maar is dit veilig en sinvol om ʼn wilde dier soos ʼn mak troeteldier groot te maak?

“Ek glo wilde diere hoort in die natuur en ek is ook ʼn kampvegter daarvoor. Ek het al ’n paar keer aasvoëls, valkies, servettekatte ensovoorts suksesvol grootgemaak en op die plaas vrygelaat. Ek ondersteun sekere rehabilitasiesentrums en ek glo in diereregte en dat enige dier die reg op vryheid het.

Erika sê sy glo ook dat sy vir die diere ʼn spreekbuis moet wees, want hulle het nie ʼn stem nie en dit is God se opdrag aan die mens – om na die diere om te sien,” verduidelik sy.

Dit hou egter nie hier op nie – Erika het ook ʼn sebra grootgemaak wat saam met die perde loop en nooit probeer het om by die wilde sebras aan te sluit nie. Hulle het ook drie muishonde wat deur mense grootgemaak is en hulle nie meer wou hê nie.”Hulle was ongelukkig reeds volwasse en kon nie gerehabiliteer word nie,” sê

Die drie muishonde slaap graag bo-op of langs Org. Erika het ook twee donkies ingeneem wat met kookwater gebrand is.

“Dit maak my moedeloos as ek hoor mense het allerhande wilde diere wat hulle probeer grootmaak. Die realiteit is, sodra hierdie diere puberteit bereik en begin streke uithaal, wil mense hulle nie meer hê nie. So ʼn dier is gedoem tot hokke, tralies en kettings en dan moet reabilitasiesentrums inspring om teen hoë kostes sulke diere ʼn tweede kans te probeer gee,” sê sy.

En as Erika iets vir Org kon sê? “Dankie dat jy my laat lag, my vertrou en dat ek so baie oor “menslikheid” by jou kon leer”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.