Weer saam na 11 maande

BULGERIVIER — Karen van Schalkwyk (50) was Maandag 4 Maart, na 11 maande, terug in haar kantoor by Bulgerivier SAPD. Terug in dieselfde kantoor saam met hartsvriendin Wilna du Plessis (48). Die vreugdevure het hoog gebrand. Hulle is immers al vir 23 jaar besties. “Dis onbeskryflik om haar terug te hê!” sê Wilna.

Wilna en Karen – uiteindelik weer saam

Dié twee se lewens het op 12 April 2018 onherroeplik verander toe hulle sowat 10 km buite Polokwane in ʼn kop-aan-kop-botsing betrokke was. Die bestuurder van ʼn Volkswagen Polo het beheer oor die voertuig verloor en vanuit die aankomende verkeer in hulle baan beland.

Karen het baie seergekry en moes uit die polisiebakkie gesny word, Wilna was ook beseer, maar die trauma was veel erger.

Karen was vir drie maande in Mediclinic Polokwane, daarna is sy oorgeplaas na die rehabilitasiesentrum by Mediclinic Muelmed in Pretoria waar sy ʼn maand was.

“Toe ek by die rehabilitasiesentrum aankom kon ek absoluut niks onthou nie. Die laaste wat ek kon onthou was sowat twee tot drie weke voor die ongeluk.

“Ek is op ʼn Maandag opgeneem en die Dinsdagoggend toe ek my oë oopmaak wou ek vir Wilna bel. My foon was egter skoongemaak omdat ek nie my sekuriteitskode kon onthou nie. Ek het dus geen kontaknommers gehad nie. Maar daar onthou ek haar nommer – ek kon dit nie glo nie! Toe sy antwoord het ons albei net gehuil,” sê sy.

By die rehabilitasiesentrum moes sy onder andere legkaarte en blokkies bou, garingdrade deur goed ryg, woorde soek tussen ʼn klomp letters, ensovoorts.

“Die dokters het gesê die brein het laaie en al my laaie het uitgeval,” verduidelik Karen.

Volgens Karen het die dokters ook gesê die feit dat sy niks kon onthou nie, die brein se manier kan wees om haar te beskerm.

Wilna sê Karen was nooit regtig heeltemal onder verdowing uit in die Mediclinic Polokwane nie, hulle het haar soms onder ligte en ander kere swaarder verdowing gehou. Sy kon soms met hulle praat, maar sy was nooit heeltemal helder nie.

Die laaste (van vele) operasies wat sy gehad het, was om die penne uit haar arm te haal en alhoewel die pen in haar voet gebreek het, sien sy nie nou kans om weer teater toe te gaan nie.

Vir eers wil sy net ʼn blaaskans hê.

Daar is dinge waaroor hulle nou kan praat. Noudat hulle kan terugkyk op dit wat gebeur het en die genade kan sien.

Die paramedikus wat “toevallig” op die tyd van die ongeluk voor ons gery en alles in sy motor se truspieël gesien gebeur het, het die hele tyd by Wilna gebly en haar verseker dat Karen leef.

“Terwyl hy na my toe gehardloop het, het hy die hele tyd vir my geskree ‘ek kom, ek kom’ en dit het my ʼn bietjie kalmer gemaak,” sê Wilna. “Die Here het daai man daar vir Wilna geplaas,” sê Karen.

Die ander stukkie genade was dat hulle vir Faan, Karen se man, kon opspoor. Hy was in die jagveld waar daar geen selfoonopvangs is nie, maar toe Kapep (Wilna se man) hom bel was hy besig om te ry op ʼn plek waar daar vir enkele minute opvangs was. “Dit was ook genade,” sê hulle.

“En ek moet sê van die oomblik wat ek in die hospitaal opgeneem is totdat ek uit die rehabilitasiesentrum ontslaan is, het Faan my nie vir een oomblik verlaat nie. Hy was die hele tyd by my,” sê Karen.

Daar is dinge wat mens nie kan verander nie, en die skade aan Karen se oë is vir haar geweldig traumaties – tog is daar reeds merkbare verbetering.

Dis ʼn verhaal van seerkry, van val en van opstaan, van genade en van hoop. En van ware vriendskap.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.