Wees ʼn verantwoordelike troeteldiereienaar

LEPHALALE — Die grendeltyd as gevolg van die COVID-19-pandemie het ʼn impak op alle vlakke van die samelewing.

Die gemiddelde huishouding se finansiële posisie is vandag heel anders as wat dit ʼn jaar gelede op dieselfde tyd was.

Mogol Pos het by Sarita du Plessis, voor-sitter van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Lephalale, uitgevind hoe dit die DBV as organisasie en die diere geraak het en steeds raak.
Mogol Pos: Vind julle dat troeteldier-eienaars hulle diere al hoe meer by die DBV aflaai omdat hulle nie meer vir die diere kan sorg nie?
Sarita: Die besluit om ʼn dier af te teken is nooit maklik nie. Soms is daar persoonlike redes waarom mense nie meer hulle troeteldiere kan aanhou nie. COVID-19 het egter baie mense se finansies ʼn groot knou gegee en ons sien heelwat mense wat feitlik alles verloor het. Dié mense moet ongelukkig die besluit neem om hulle diere op te gee. Dit is ʼn baie hartseer realiteit.

Elke dorp se situasie is anders en die DBV se statistieke verskil van dorp tot dorp. Ons kan nie met sekerheid sê dat diere net as gevolg van die impak van COVID-19 afgeteken word nie, in Lephalale is dit in baie gevalle ook omdat kontrakteurs se kontrakte eindig. Elke gesin of persoon se situasie is uniek en die DBV-personeel probeer elke geval met empatie hanteer.
Mogol Pos: Is daar baie mense wat eenvoudig hulle diere voor die hek aflaai en ry? Indien wel, hoeveel het dit toegeneem die laaste vyf maande?
Sarita: Daar is sulke gevalle ja, maar baie min, en indien dit wel gebeur hanteer ons personeel die situasie feitelik en met passie vir die diere.
 Die personeel is altyd beskikbaar indien iemand ʼn troeteldier moet afteken. In sommige gevalle ontvang ons dan ʼn kontantdonasie of kos wat oorgebly het om te help met die versorging van die troeteldier.
Mogol Pos: Is daar baie mense wat die DBV nader vir kos vir hulle troeteldiere?
Sarita: Ja, dit gebeur soms in omstandighede waar ʼn gesin of persoon dit moeilik vind om kos vir die troeteldier te bekostig. Hulle nader ons dan vir hulp.
Mogol Pos: Is daar nog mense wat diere aanneem in hierdie tyd met die drukkende ekonomie?
Sarita: Dit verskil van maand tot maand. Die DBV in hierdie streek was verbaas dat daar meer aannemings was net na die aankondiging van Vlak 3 van inperking as wat daar was voor die COVID-19-pandemie.
Mogol Pos: Het jy ʼn boodskap vir troeteldiereienaars?
Sarita: Ja, graag. Eerstens, wees ʼn verantwoordelike troeteldiereienaar.
 Laat steriliseer jou troeteldiere en maak seker hulle kan nie uit jou erf kom nie.
 Indien jou troeteldier vermis word, besoek die DBV met besonderhede van die vermiste troeteldier, adverteer dit op sosiale media, vertel vir jou bure en mense in jou omgewing daarvan en sit pamflette by winkels op met besonderhede oor jou troeteldier.
 As jy vermoed jou troeteldier is vergiftig – skakel onmiddellik jou veearts, moenie tyd mors nie.
 Moet asseblief nie jou troeteldier aan ʼn ketting vasmaak nie en skakel die DBV vir raad en leiding indien nodig.
Mogol Pos: Watter kos kan as goedkoper alternatief gebruik word as hondekos te duur is?
Sarita: Die regte hondekos vir jou hond se grootte en ouderdom sal altyd die beste keuse wees. Wees versigtig om vir jou hond vrot kos of enige huiskos te gee, aangesien sommige kosse baie skadelik kan wees vir jou troeteldier.
 Indien jy nie goeie honde- of katkos kan bekostig nie, probeer die goedkoopste opsie en meng dit met rys.
 “Ons ontvang tans baie oproepe oor wilde katte (feral cats) by besighede, komplekse en huise. Die DBV is besig met ʼn projek om dié katte te help, maar daar is kostes verbonde daaraan en ons vra die publiek om ons asseblief te help. Indien jy weet van of afkom op wilde katjies, skakel asseblief eers die DBV sodat die situasie ondersoek kan word. Moet die katjies onder geen omstandighede net verwyder nie,” sê Sarita.
 Sarita en die res van die DBV-komiteelede en personeel moedig die Lephalale-gemeenskap aan om by die DBV betrokke te raak – die DBV is ʼn niewinsgewende organisasie wat totaal afhanklik is van die publiek vir donasies en ander ondersteuning.
 Komiteelede offer hulle persoonlike tyd op om die diere in die sorg van die DBV te help in nood. Fondsinsamelings word gedoen om die DBV in staat te stel om alle uitgawes te dek.
 Daar is verskeie maniere hoe jy die DBV kan help – dit hoef nie noodwendig ʼn donasie of persoonlike besoek te wees nie.  
 Skakel die DBV in Lephalale gerus by 079 398 6784 vir meer inligting.

(Die DBV in Lephalale se bankbesonderhede is soos volg: SPCA Lephalale, Standard Bank, Tjekrekening, 03 338 2425).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.