Wees op uitkyk vir varkpes

LEPHALALE — ʼn Varkboer van Lephalale wat tot groot ontsteltenis van sy bure ʼn varkboerdery op een van die Rietspruitplotte bedryf het, het onlangs ʼn groot verlies gely toe sy hele trop van byna 300 varke van kant gemaak moes word nadat hulle varkpes gekry het. Lephalale is een van die Landdrosdistrikte wat as Varkpesbeheergebied verklaar is.
Verskeie inwoners van die Rietfonteinplotte het by Mogol Pos gekla oor die onuithoudbare stank wat dié boerdery in die omgewing veroorsaak het. Baie het beweer dat dié boer nie by die regulasies hou nie en dat hy varke wat doodgaan in die veld gooi en nie begrawe nie.
Mogol Pos het gaan ondersoek instel en navraag gedoen oor dié gevaarlike en aanmeldbare siekte wat varkboere groot skade kan laat lei.
Volgens Nicolien Nel, beheer veterinêre tegnoloog by die Departement van Landbou se provinsiale laboratorium in Lephalale, het varke van die betrokke varkboer rondom 28 Julie 2017 begin vrek en simptome begin toon van Varkpes. Hy het die varke na Nicolien geneem, die nodige toetse is gedoen en daarna is hulle by die LNR Onderstepoort Veeartsenykunde-instituut positief getoets vir Varkpes. Die area is dadelik onder kwarantyn geplaas.
Maandag 1 Augustus was die situasie van so aard dat daar besluit is om al die varke van kant te maak.
“Dit is ʼn beheerde siekte soos bek-en-klouseer en dit is uiters aansteeklik” sê Nicolien.
ʼn Sagte bosluis, tampans, wat vlakvarke as gasheer gebruik, dra varkpes oor. Dit is om dié rede dat daar streng regulasies is rakende die omheining by ʼn varkboerdery.
Die Wet op Dieresiekte 1984 (wet 35 van 1984), vereis dat varke in stewige steen- of betonhokke met sementvloere moet bly met stewige metaalhekke oorgetrek met vark- of metaalplaat. Daar word onder andere ook vereis dat ʼn stewige heining van 1,3 m hoog van varkdraad opgerig moet word, nie nader as 3 m vanaf die hok se buitemuur nie. Die heining moet ongeveer 30 cm diep stewig in die grond geanker wees. Dit moet met ander woorde vlakvarkbestand wees.
Die hok moet teen ʼn helling gebou wees met behoorlike afvoerpype sodat dit daagliks skoongespuit kan word.
Volgens die RPO kan varke ook varkpes kry as hulle onder andere kombuisafval eet.
Volgens Nicolien het dié boer se hokke waar die varke aangehou is nie aan die basiese vereistes voldoen nie. “Die varke het op grond geloop en was nie altyd in hulle hokke nie. Hulle het buite die hokke rondgeloop en die vereistes rondom die omheining en mure is ook nie nagekom nie. Dit is ʼn duur prys om te betaal” sê Nicolien.
Die varke is geskiet, hulle karkasse verbrand en begrawe.
Wanneer varkpes in ʼn area uitgebreek het, mag die boer vir ten minste ses maande tot een jaar glad nie varke aanhou of met varke boer nie.
Simptome vir varkpes:
Die varke wil nie eet nie, hulle sukkel om asem te haal, dragtige varke aborteer, die ore, neus, maag en bene mag “kolle” kry – amper soos kneusplekke onder die vel, daar kom bloederige skuim by hulle monde uit en hulle lyk moeg en wil net lê. Varke wat varkpes onder lede het vrek gewoonlik baie gou.
Volgens Nicolien was vanjaar die eerste jaar waar daar drie gevalle van varkpes in Limpopo aangemeld is en varkboere moet seker maak hulle voldoen aan al die regulasies.
Die alternatief is groot skade.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.