Wees paraat, jy is ‘n teiken

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dit blyk duidelik dat ons nog nie paraat genoeg is betreffende plaasaanvalle nie het Thys Eloff, voorsitter van die Lephalale gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), verlede Donderdag tydens die vergadering van die Lephalale Gemeenskapsveiligheidsforum (LGVF) gesê.
Eloff het verwys na die vlaag plaasaanvalle en –moorde wat van die begin van Februarie af voorgekom het.
Ván die redes wat hy genoem het ter stawing van sy uitspraak is die feit dat mense onbetrokke is. “Baie mense wil nie moeite doen om in te skakel by ‘n veiligheidsnetwerk nie en hulle is onbetrokke by hulle bure se doen en late” sê hy.
Hy het bygevoeg dat mense oor die algemeen nooit sonder ‘n vuurwapen behoort te wees om hom/haarself en gesinne te verdedig nie.
“Wees bewus van wat om jou aangaan en moenie vir iemand anders wag om veiligheidsmaatreëls op te skerp of namens die gemeenskap op te tree nie” sê hy.
Hy het ook bygevoeg dat hy meen die meeste mense weet nie eintlik wat hulle kan doen om hulself te beveilig nie.
“As jou lewe of persone oor wie jy beheer het se lewens in gevaar is, dan mag jy optree” sê Eloff.
Hy sê ook die feit dat die motief van die meeste van die onlangse aanvalle onduidelik is en dat die meeste van die slagoffers nie vermoeënd was nie, is kommerwekkend.
“Dit maak nie saak of jy geld het, waar jy bly en wie jy is nie, jy is ‘n teiken” het hy afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.