Welkom dr. Daan

Dr Daan van Wyk

Ria Wells
LEPHALALE — Dr Daan van Wyk het op 23 April vanjaar sy intreepreek by die Nederduitsch Hervormde Kerk Ebenhaeser gelewer.
Hy was vir 14 jaar in Wolmaransstad en vir twee jaar in Duiwelskloof in die bediening. Dr Daan was ook vir drie jaar die voorsitter van die Algemene Kommissie van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika waar hy hom uitgeleef het in sinodale werk. Verder het hy ‘n doktorsgraad in die Nuwe Testament en sy doktoraal het gehandel oor: “Kerklike besinning oor die vraag na die historiese Jesus”.
“Maar nou is dit tyd om te fokus op plattelandse bediening. Ek is mal oor basaars soos die Boererumoer … goed wat nie regtig in die stad gebeur nie” sê dr Daan. Hy sê daar is ‘n besondere gees in ‘n plattelandse gemeenskap en glo dat die hart van die kerk sterk in die platteland gesetel is.
Dr Daan en sy vrou se paadjies het onlangs geskei en hy is in ‘n sekere sin dankbaar oor die nuwe begin by Ebenhaeser en die groot uitdaging wat dit bied. Hy het twee seuns – Daan, wat in Gravelotte in die wildbedryf is en Theuns wat tans besig is met sy honneurs in geologie aan die Noordwes Universiteit. Volgens ‘n dankbare Dr Daan het die gemeente hom met ope arms ontvang. “Ek bly in ‘n lieflike pastorie en wil graag my volle gewig by die hele gemeenskap ingooi en deel word daarvan”, sê hy.
Hy herinner sommer die gemeenskap aan die Boererumoer wat Vrydagaand 9 Junie en Saterdag 10 Junie by die kerkterrein plaasvind en sien uit daarna om die bosvelders te ontmoet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.