Welkom Inspekteur!

Leoni Kruger
LEPHALALE — Ontmoet die borrelende Mariska Jacobs. Sy is die splinternuwe Inspekteur by die Lephalale dierebeskerm-ingsvereniging (DBV) en sy is mal oor die Bosveld.
Mariska was die afgelope vier en ‘n half jaar Inspekteur by Mosselbaai se DBV, wat terloops een van die top-DBV’s in die land is.
Mariska verduidelik dat dit baie harde werk en ondervinding met diere vereis om as inspekteur te kwalifiseer.
“Daar is eksamens waar jy al die relevante wette moet ken, twee weke by die Nasionale dierebeskermingsverening in Alberton, nog eksamens, kursusse, take en opdragte voordat jy kan kwalifiseer”, sê sy.
Mariska het ook twee jaar by ‘n veearts in Carolina gewerk waar sy waardevolle ondervinding opgedoen het.
Die Bosveld is nie vir haar onbekende terrein nie – sy het immers voorheen by die Vaalwater Hotel gewerk.
Haar tweede seuntjie is in dié tyd (vyf jaar gelede) in Mediclinic Lephalale gebore, maar hulle het daarna verhuis na Mosselbaai. Mariska was reg vir ‘n verandering en sy wou graag terugkeer na die Bosveld, want die een ding waarna sy verlang het, was “Bosveldstorms”.
Soos die lewe loop hoor sy toe by ‘n vriendin van haar wat in Lephalale woon dat daar ‘n inspekteursposisie vakant is by Lephalale DBV. Sy het aansoek gedoen en die res is geskiedenis!
Haar twee seuns, agt en vyf jaar oud, is reeds ingeburger in hul nuwe skole en sy is baie gelukkig.
Haar boodskap aan die Bosveldgemeenskap is dat almal asseblief hul samewerking moet gee en dat elke persoon verantwoordelike eienaarskap moet neem van sy/haar troeteldier. “Laat steriliseer asseblief jou troeteldier, hier is 68 hokke by die DBV en al 68 hokke is propvol. En die diere word daagliks meer”, sê sy.
Op die vraag of hulle Saterdagaand tydens die vuurwerkvertoning by die Bosveldfees baie besig was sê sy dat dit verbasend stil was. Twee honde wat weggehardloop het is aan hulle gerapporteer en die honde was teen druktyd steeds soek.
“Ek het net voor 19:00 in die straat voor my huis in Onverwacht uitgestap (die vuurwerkvertoning begin om 19:00) om te kyk of ek nie verwilderde diere sien rondhardloop nie, maar ek was beïndruk om te sien hoeveel mense op pad was huis toe na hul diere toe om hulle op te pas en te kalmeer. Dít is nou goeie samewerking van die gemeenskap se kant af,” sê sy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.