Werdie bobaas in SA

Werdie (middel) saam met die tweede en derde wenners

LEPHALALE — Hennie en Werdie van Staden het die naweek van 24 en 25 November te Magnum Archery in Pretoria aan die SA ABO-kampioenskappe deelgeneem. Ongeveer 500 deelnemers van regoor die land het dit uitgespook om te wys wie is baas met ’n boog in die hand.

Hennie (regs) saam met sy opponente

Werdie neem deel aan die Hunters Advanced-kategorie+ afstandskat tot en met 40 jaart en troef die res met goud om sy nek.  

Die eerste dag skiet Werdie 199 uit 220 en die tweede dag verbeter hy sy eie SA-rekord van 212 na 213 uit 220. Hy word ook aangewys as die beste skut van die toernooi. Na die toernooi moes die toptienskuts van die jaar teen mekaar uitskiet en weer eens skitter Werdie met goud.

Die Wildebeeshandelsmerk het ook ’n R2 500 koopbewys aangebied vir ’n “Fun shoot” en Werdie maak weer skoonskip. Tydens die prysuitdelingsfunksie word Werdie aangewys as Triple Crown-wenner in sy afdeling. Hiermee bewys Werdie homself as die crème de la crème van boogskiet in Suid-Afrika in sy afdeling.

Hennie skiet in die Male Senior Release-afdeling afstandskat tot en met 45 jaart. Hy vaar glad nie goed op die eerste dag nie, maar skiet die tweede dag 192 uit 220 en moes tevrede wees met silwer. Hy mis goud met ’n enkele punt. Hennie word egter tydens die prysuitdelingsfunksie aangewys as Triple Crown-wenner vir die Jaar in sy afdeling.

Tydens dieselfde toernooi neem Hennie en Werdie in spanverband saam met Noel Genis van Pretoria en Nollie Troskie van Pietersburg deel en die span van vier wen ook hierdie kompetisie.

Elke provinsie het hul vier beste skuts gekies waarin Hennie en Werdie gekies word vir die Gauteng-Noord-span. In dié kompetisie wen hulle silwer.

Hierdie pa en seunspan sluit die jaar op ’n hoë boogskietnoot af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.