Wêreldrekordbul

Wêreldrekordbul Damascus by Jan, Pieter en Christiaan Lamprecht – drie geslagte

STEENBOKPAN — “Die grootste uitdaging in die bedryf is om die regte bul en die regte koei bymekaar te bring, daardie twee diere wie se genetika net eenvoudig saamwerk,” sê Pieter Lamprecht.

En wat gebeur as jy dit regkry? Dan kry jy vir Damascus.

Die Lamprecht-familie boer al vier generasies, sedert 1926, op die plaas Somerset Noord in die Steenbokpan-area.

In 2012 het Crown Game Breeders begin met die intensiewe teling van swartwitpense. Die Lamprechts het hulle toegespits op die deeglike selektering van die basiskudde en vandag, sewe jaar later, pluk hulle die vrugte daarvan.

Volgens Pieter is hulle met goed beplande teling besig om te slaag in hulle doel om diere te teel vir optimale horinglengte en hoë vrugbaarheid. Die resultate van die huidige teelprogram sal eers in 2028 sigbaar wees.

Damascus se pa is die welbekende ontslape Rapella 52 4/8+”, en sy ma is ’n 33 2/8” koei afkomstig van Tswalo. Hy het die genetika van die Matetsi-lyn en die diversiteit van sy moederlyn is wat nodig was om daardie genetiese vonkie te veroorsaak wat rekords laat spat.

Die Lamprechts het verlede week met groot trots aangekondig dat Damascus ’n allemintige 55 2/8” meet op die jong ouderdom van 64 maande (5 jaar, 4 maande). Dit maak hierdie ongelooflike bul die grootste lewende swartwitpens (Hippotragus niger niger) ter wêreld! Met ’n gemiddelde groei van 3/8” per maand vir die laaste 12 maande.

Daar word nog ongelooflike mylpale van hom verwag.

“Ons het ’n nuwe era in swartwitpensteling betree; ons is op die randjie van Super Sables,” sluit Pieter af.

Pieter Lamprecht was in 2014 die WRSA se Boer van die Jaar.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.